Musiekvideo: Ariose vier die maand van liefde

Ariose, ’n passieprojek van drie musikante wat in Oktober 2020 gestig is, vier die maand van liefde behoorlik met nóg ’n oorspronklike snit wat sommer diep in musiekharte gaan nesskop.

Dié trio, wat bestaan uit Xander Filmalter, Renier Henning en Heidi Henning, het reeds twee uitreikings getiteld “Bly jy hier” en “Jy” opgelewer.

“Saam met jou” is die nuwe enkelsnit uit Xander se pen en Renier, wat ook kitaar speel vir die groep, het die vervaardiging van die liedjie behartig.

Heidi Henning, die roos tussen die dorings, sorg vir soet, hoendervleismooi oomblikke met haar unieke stem en aanslag.

“Vir my gaan die liedjie oor daardie oomblik wat jy voor die liefde van jou lewe staan en met alles binne jou weet dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie, ongeag wat in die toekoms gebeur,” verduidelik Xander.

Heidi van Ariose. (Foto: Verskaf)

“Ek sien ’n vierjarige seuntjie in sy Batman-kostuum wat elke keer oor die bank duik as die bure se dogtertjie kom kuier of die bruidegom wat sukkel om sy emosies te beheer wanneer hy in sy bruid se oë kyk. Natuurlik is die oomblik omring deur ’n groter storie, maar iewers tussen teleurstellings en oorwinnings kom daar ’n punt waar twee mense besef dat hulle nie so ver sou kom sonder mekaar nie.”

Hoewel die snit diep lirieke het, meen die drie dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor en dat luisteraars die lekker energie en ritme sal geniet.

Volgens Renier het hy van die begin af geweet dat hierdie ’n liedjie is wat mense moet hoor. “Die koorgedeelte, wat eindig met ‘ek is soveel meer hier saam met jou’ maak dat jy jou geliefde wil nadertrek en herinner wil word aan hoekom jy hom of haar gekies het. Ek hoop dat dit dieselfde effek sal hê op almal wat daarna luister, want dit is immers altyd lekker om ’n liedjie te luister wat die haartjies op jou arms laat regop staan van lekkerte.”

Heidi stem saam dat hierdie duet soos die stukkies van ’n legkaart bymekaar gekom het om die perfekte eindresultaat te skep.

“Die liefde is so ’n opwindende reis en ek dink ons het dit mooi vasgevang in die liedjie wat amper soos ’n kinderlike sprokiesverhaal afspeel.”

Renier van Ariose. (Foto: Verskaf)

Die musiekvideo is deur die groep self geskiet en vervaardig en het reeds in Renier se verbeelding afgespeel voordat dit op kamera vasgevang is. Dit het ’n sprokiesverhaaltema en speel af in ’n woudagtige omgewing wat Xander na aan die hart lê.

“Ek dink die woud is ’n metafoor vir die meeste verhoudings. Dis wild en wonderlik, maar jy kan verdwaal en weet nooit wat om die volgende draai vir jou wag nie. Die staproete waar die video geskiet is, is ’n plek waarheen ek en my honde gaan om te ontsnap aan die alledaagse lewe en is daarom vir my baie spesiaal.”

Volgens Renier wou hy lankal ʼn video in die natuur skiet. “Die prentjie van kronkelpaaie, hoë bome en lig wat deur die takke skyn van bo af, was altyd in my kop. Die sprokiestema wat deur die liedjie vleg, het die konsep lekker laat ontwikkel en my visuele konsep is geskoei op die broers Grimm se prinsesse wat deur die woud hardloop.”

Ariose het die afgelope twee jaar baie geleer oor die musiekbedryf en dit geniet om hulle musiek oor die radio te hoor, hulle video’s op die kassie te sien. Buiten vir hulle afsonderlike projekte – Xander se sololoopbaan en Renier en Heidi se gospelgroep, King’s Collective – het hulle nog talle planne vir die toekoms.

Xander van Ariose. (Foto: Verskaf)

“Verlede jaar was ’n moeilike jaar vir baie mense, ons inkluis, en baie dinge wat ons wou doen het nooit gerealiseer nie. Ons werk tans hard aan vier of vyf nuwe liedjies en musiekvideo’s en is ons besig om aan ons regstreekse optredes te slyp. Dit voel vir ons of vanjaar die jaar is waarin ons dinge kan herset en dinge anders aanpak,” sê Renier.

Ariose, wat melodie beteken, se doel was nog altyd om goeie Afrikaanse musiek te maak. “Hierdie is ’n gemaklike popliedjie wat mense in hulle karre, sitkamers en saam met vriende kan luister. Dit het ’n lekkerluisterwysie en betekenisvolle lirieke, wat enige persoon wat al ooit verlief was sal verstaan.”

“Saam met jou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.