Musiekvideo: Blinkruiter skryf ode aan Pretoria

Dylan Graham, Johan Ruyter en Justin Smit van Blinkruiter. (Foto: Alet Pretorius)

Met hulle splinternuwe album, ʼn Storm Kom: Afrikana Vol 2, word die manne van die rockgroep Blinkruiter luidkeels aangekondig as ʼn nuwe stem in kontemporêre Afrikaanse musiek.

Die eerste enkelsnit vanuit die album, “Koning van Pretoria”, se musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Blinkruiter bestaan uit Johan Ruyter (stem, kitaar, elektroniese byklanke), Dylan Graham (elektriese kitaar) en Justin Smit (stem, baskitaar, kitaar en naproduksie). Dié drie musikante en veelsydige kunstenaars speel al sowat drie jaar saam, meestal in die Pretoria-omgewing.

“Koning van Pretoria” is ʼn lekkerluister-rocksnit met ʼn tikkie humor wat opgedra is aan die bekende Suid-Afrikaanse abstrakte kunstenaar Walter Battis.

Die bekende kunstenaar Diane Victor het die albumomslag behartig.

“Wanneer hy klas gegee het, het hy gemaak asof hy die koning van Pretoria is,” verduidelik Ruyter, wat etlike jare in die buiteland gereis het voordat hy sowat ses jaar gelede teruggekeer het Pretoria toe.

“Die lirieke spruit ook uit my eie ervaring om só lank weg te wees uit Suid-Afrika en om nou weer Pretoria my huis te kan noem.”

Die diversiteit van die stad Pretoria het ook die liedjie geïnspireer. “Pretoria is ʼn baie politiese, ‘reguit’ stad, maar dit is ook ʼn kleurryke stad vol karakters, kuns en musiek.”

Die musiekvideo beeld ʼn intieme reis deur Pretoria uit en begin by Fort Klapperkop al die pad deur die stad se gevestigde landskappe, die nywerheidsgebiede van Silverton tot by Brooklyn naby die Universiteit van Pretoria. Die video is deur die filmmaker Gareth Fradgley vervaardig.

ʼn Storm Kom: Afrikana Vol 2 bevat 14 rock-alternatiewe snitte soos “Twee broers”, “Reg vir liefde”, “Uitkyktoring” en “Hier kom die nag”, almal hoofsaaklik uit Ruyter se pen.

Ruyter en Graham is al sowat twee dekades bevriend, terwyl Smit onlangs betrokke geraak het by die groep toe hulle besluit het om ʼn vollengte-ateljee-album op te neem.

Tydens die verfilming van die musiekvideo. (Foto: Alet Pretorius)

“Ons is Afrikaanse storievertellers wat verhale vertel wat jy nie elke dag hoor nie. Party is ligsinnig en ander is weer donker. Met hierdie album wou ons graag die luisteraar op ʼn veelsydige reis neem deur kontemporêre Afrikaans en hulle laat beleef hoe dit voel om die wêreld in hierdie stadium te ervaar.

“Om Afrikaans te wees in Suid-Afrika is tans effens stormagtig, maar daar is ook soveel goeie goed wat nou gebeur.”

Die bekende kunstenaar Diane Victor het die albumomslag behartig. “Ons wil verhale vertel deur luistervriendelike melodieë waarna mense geneig is om te luister. Die musiek lê ons naby aan die hart. Dit is ʼn mengsel van poëtiese, kommersiële musiek en gaan oor die kwessie van om te behoort en ʼn manier vir ons om ʼn ruimte vir onsself uit te krap in hierdie wêreld.”

ʼn Storm Kom: Afrikana Vol 2 is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Koning van Pretoria”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae