Musiekvideo bring hoop voor Paastyd

Jannie Moolman en Dewald Gouws (Foto: Verskaf)

Jannie Moolman en Dewald Gouws het ʼn geestelike duet “Hou aan met glo” uitgebring nadat hulle in 2020 onder strenger vlakke van inperking daaraan gewerk het. Die musiekvideo word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel.

“Die liedjie kom uit frustrasie oor Covid-19 en die feit dat ʼn mens nie weet wat volgende gaan gebeur nie,” sê Moolman aan Maroela Media. “Ons het saam begin liedjies skryf om aan die gang te bly in die onsekere tyd.”

Gouws vertel dat die liedjie na hom toe gekom het een Saterdagoggend nadat hy vir die Here raad gevra het om mense hoop te kan gee in ʼn onsekere jaar.

“Ek het bonatuurlik ervaar hoe die Here vir my die musiek en lirieke gee. Die kern van die boodskap is om vir mense hoop te bring in ʼn tyd waar dit vir baie mense donker is.”

“Mense sukkel met inkomste en gesondheid en daar is ʼn algemene onsekerheid in die land – dit is vir niemand lekker nie. Met ‘Hou aan met glo’ wil ons mense se harte aanraak – al is dit net ʼn klein stukkie hoop wat ons kan byvoeg,” sê Gouws.

Die musiekvideo vir “Hou aan met glo” is verfilm op ʼn plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp en die twee het dit eens dat die oopte van die plaas goed inskakel by die boodskap van die lied.

“Dit was die perfekte plek, want jy kry die gevoel van grootheid en vryheid,” sê Moolman.

“Die musiekvideo begin waar Jannie in ʼn grasveld is en ek by ʼn dammetjie, maar aan die einde is ons saam en klim ons ʼn berg saam uit – ons triomfeer saam dat God ons deurgedra het,” sê Gouws.

Die duo wil met die musiekvideo, wat ʼn dag voor Goeie Vrydag en die aanvang van die Paastyd vrygestel word, mense maan om vas te hou aan hul geloof in God en om nie moed te verloor nie.

“Die Here weet waarheen Hy met ons op pad is. Dit is ʼn hartseer tydperk vir baie mense, maar dit is ook ʼn tyd van hoop en ek glo dat daar wel ʼn uitkoms is. So, hou aan hoop en glo en vertrou in die Here – Hy weet wat Hy doen,” sê Moolman.

“Jesus het sy Gees gestuur om in ons harte te werk. Jy is nooit alleen nie, Hy help jou en Hy is altyd daar. Jy moet net aanhou glo en vashou aan sy hand,” sê Gouws.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.