Musiekvideo: Broer-duo sing oor sonneblom-mense

Die broers-duo Dagdroomsindroom met Kirsten en Kyle Schlebusch. (Foto: Pravi Storytelling)

Die broer-duo, Droomsindroom, se jongste enkelsnit, “Hey Sonneblom”, is pas bekendgestel.

In dié enkelsnit wil Kirsten en Kyle Schlebusch luisteraars van hul probleme laat vergeet.

“‘Hey Sonneblom’ is ʼn goedvoelliedjie en die sonneblom waarna daar verwys word, is ʼn metafoor vir die mense in elkeen van ons se lewe wat somer én sonskyn gedurende jou donkerste tye bring.

“Hierdie mense besef nooit regtig hoe helder hulle in ons lewe skyn nie en juis dít maak hulle so spesiaal,” verduidelik Kirsten.

Kirsten het “Hey Sonneblom” geskryf ná afloop van ʼn seevakansie en sy inspirasie was juis om daardie vars gevoel van vakansie en ontspanning met musiek vas te vang.

“Die doel om te skryf oor die sonneblom-mense in elkeen van ons se lewe was om ʼn parallel te trek met daardie gevoel van algehele geluk wat mens ervaar tydens ʼn seevakansie en die sonneblom-mense in ons lewe,” het hy gesê.

Volgens hom is dit belangrik dat mense elke nou en dan ʼn oomblik moet afknyp om hulself te herinner dat die lewe nie te ernstig opgeneem moet word nie.

“Die belangrikste ding is dat jy jouself moet geniet in hierdie deurmekaarspul wat ons lewe noem. As jy ʼn sonneblom vir iemand anders kan wees, het jy ʼn waardevolle lewe geleef.”

Kirsten is die oudste van die twee boeties en het geen bekendstelling in die Afrikaanse musiekbedryf nodig nie. Hy het veral bekendheid verwerf met sy enkelsnit, “Mia”, wat in 2019 uitgereik is. Kort daarna, met die aankondiging van die Covid-19-inperkings, het hy en Kyle saam begin musiek maak.

Kyle is tans op skool, maar ewe opgewonde oor sy en sy broer se nuwe opwindende reis.

“Ek dink mense is lus om weer ʼn bietjie gelukkig te wees. Mense wil dans, kuier, liefhê en weer iets voel. Dit is wat ons graag met hierdie lied vir mense wil gee,” het hy gesê.

“Droomsindroom is hier om die Afrikaanse musiekbedryf op sy kop te draai,” het hy opgewonde bygevoeg.

“Hey Sonneblom” se enkelsnit en musiekvideo is op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.