Musiekvideo: Candy Benson raak verloof aan ‘sielsgenoot’

Candy Benson en Dylan Emslie het verloof geraak tydens die skiet van haar musiekvideo vir ‘7 dae in die somer’. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Dit kan nogal betowerend wees om gedurende ’n vakansie verlief te raak – die weer is lekker, jy is vry om in die oomblik te leef en dit voel asof enigiets moontlik is.

Dit is dan ook presies waaroor Candy Benson se nuwe enkelsnit, “7 dae in die somer”, gaan.

Die liedjie is geskryf deur Candy en haar kitaarspelerkêrel, Dylan Emslie, en vertel die storie van ’n vakansieromanse wat in iets diepers ontluik.

Candy en Dylan het op die stel van die musiekvideo verloof geraak en dié romantiese oomblik is vir altyd in die video vasgelê.

Volgens Candy is die inspirasie agter die liedjie die kwessie dat sy self haar eie sielsgenoot gevind het, en nog nooit so gelukkig was nie.

“Die liedjie is besonder spesiaal. Dit is die eerste een wat ek en Dylan saam geskryf het en is ’n weerkaatsing van hoe ons oor mekaar voel.”

Omdat die tema van verlief wees so universeel is, glo sy dat die snit by ’n groot gehoor sal aanklank vind.

“Die liedjie gaan oor verlief wees en of jy nou pas iemand ontmoet het, of al vir jare saam met iemand is, sal ‘7 dae in die somer’ jou laat glimlag en laat dink aan julle mooi herinneringe saam. Die liriek is diep en betekenisvol en die wysie opgewek. Dit is regtig ’n goedvoelliedjie,” sê sy.

Candy is al van jongs af op die verhoog en het Suid-Afrika twee keer – as nege- en 12-jarige – in Los Angeles, VSA, by die Wêreldkampioenskapsreeks van Uitvoerende Kunste in Los Angeles verteenwoordig.

Sy is as Junior Wêreldkampioen in die Rock-kategorie bekroon en het verskeie goue en silwermedaljes vir ander genres verower. Haar eerste enkelsnit is uitgereik toe sy 18 was.

Haar debuutalbum, Niks kan my keer nie, is in 2014 uitgereik en benoem vir ’n Ghoema-toekenning vir nuweling van die jaar.

Haar tweede album, Onweerstaanbaar, het in 2017 gevolg en vir haar nog ’n Ghoema-benoeming besorg, dié keer vir beste kontemporêre album.

Candy, wat ewe tuis op die verhoog as in die Bosveld as gekwalifiseerde wildbewaarder is, is tans besig om nuwe musiek te skryf en dit op te neem. Sy beplan ook om binnekort ’n nuwe musiekvideo te skiet en uit te reik. Candy is ’n ambassadeur vir die Reik na ʼn droom-stigting en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

“7 dae in die somer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Snaaks hoe niemand se “sielsgenoot” ooit lelik is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.