Musiekvideo: Carma, CheraLee en Elmé vier seisoene van vrouwees

CheraLee, Elmé Churr en Carma in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Blomme is ʼn natuurlike simbool van skoonheid en is dikwels teenwoordig in verskillende seisoene van veral ʼn vrou se lewe: van haar geboorte en verjaarsdae, tot Valentynsdae en afsterwe.

Daarom het die sangers en liedjieskrywers Carma, CheraLee en Elmé Churr besluit om dit as hoofinspirasie vir hul nuwe én eerste enkelsnit saam, “Blom in Sy wese”, te gebruik.

Dié lied is spesifieke neergepen om nie net vrouwees te vier nie, maar ook om “Vroue in Beweging”, ʼn nuwe inisiatief van Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (wat met opset verkeerd gespel word) se bekendstelling af te skop.

Maroela Media het vroeër berig dat die “Vroue in Beweging” op 9 Augustus in die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel word. Dié projek plaas ʼn sterk klem op opleiding, wat vroue toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om hul lewens te verbeter en hulself te ontwikkel.

CheraLee, Carma en Elmé sal hier ook “Blom in Sy wese” vir die eerste keer op die verhoog sing.

Maroela Media se lesers kry vandag ook ʼn eerste kykie na die lied se splinternuwe musiekvideo en dié drie borrelende blondekop sangers het in die Maroela Media-ateljee kom kuier om meer daaroor te gesels.

“Ons wou lank reeds ʼn projek saam aanpak. Aanvanklik wou ons net ʼn lied saam skryf, maar Elmé het toe Helpende Hand se FroueVonds genader en vertel wat ons groter doelwit en visie met die lied is. Toevallig het hulle terselfdertyd met hierdie nuwe projek begin, so alles pas toe so mooi in mekaar in,” vertel CheraLee.

Elmé, wat ook ʼn ambassadeur vir die Helpende Hand se studiefonds is, meen iets het “net gekliek”, daarom is daar besluit om “Blom in Sy wese” deel van die Vroue in Beweging-bekendstelling te maak.

Die lied is aanvanklik gebore uit ʼn gedig wat deur CheraLee neergepen is, maar sy verduidelik dat elke sanger haar unieke stempel daarop afgedruk het.

“Ons is elkeen liedjieskrywers en solo-kunstenaars in eie reg en kon iets uniek na die tafel toe bring. Tog het dit so mooi saamgewerk, wat ek dink die lied net soveel meer betekenis gee.”

Volgens Carma het die vroue se gedeelde waardes en visie ook bygedra dat tot “Blom in Sy wese”.

“Dieselfde opregte gevoel het op ons elkeen se harte gedruk: dat vroue dinamies in hul wese is. Soos ʼn blom van saad na vrug gaan, het hulle ook iets uniek om in elke seisoen van hulle lewe te bied,” verduidelik sy.

Ook vroue se unieke empatie en sagtheid is volgens Elmé eienskappe wat deur die lied vereer word.

“Ons het hierdie vermoë om te luister en ons emosies ten volle te benut wanneer ons na ander luister. Die manne wil gewoonlik dadelik planne en oplossings beraam, maar ons het die vermoë om te verstaan hoekom mense reageer en optree soos wat hulle doen. Dit maak ons uniek.”

Die vroue vertel verder dat die musiekvideo effens afgewyk het van elkeen se individuele styl.

“Ons is as solo-kunstenaars meer gewoond aan performance musiekvideo’s, maar hierdie een is in die ateljee geskiet terwyl ons die lied opgeneem het. Dit was nie altyd maklik nie, want nou moet jy fokus en mooi sing, maar ook mooi lyk vir die kamera,” terg Carma.

“Dit was ʼn kunstige, kreatiewe atmosfeer en het ons unieke sterkpunte en passies vasgevang, maar ook gewys hoe goed ons saamwerk,” voeg CheraLee by.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Vir navrae oor die Vroue in Beweging-projek, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected].
  • Kliek hier om kaartjies na die Vroue in Beweging se bekendstelling te koop.
  • Kyk na “Blom in Sy wese” se musiekvideo hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.