Musiekvideo: Carma se ‘Oase’ voed jou siel

Die sangeres Carma het die hartseer van haar ma se afsterwe gebruik om haar te motiveer om haar musiekdroom uit te leef.

Sy stel vandag die musiekvideo vir haar jongste enkelsnit, “Oase”, eerste op Maroela Media bekend.

“Oase”, uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer, is geskryf vir Carma en wel op só ’n wyse dat dit haar stem ten beste beklemtoon. Die liedjie lê Carma baie na aan die hart, want dit is geskryf kort ná die afsterwe van haar ma.

Met hierdie liedjie wil Carma mense se harte aanraak met die boodskap dat elke donker tyd tog ook nog met groei gepaardgaan.

“In so ’n hartseer tyd was daar ook ’n oase van my ma af – ’n finansiële bydrae tot my droom. Deur my droom nou uit te leef verwerk ek só die seer en die verlange na my ma,” vertel sy.

“Dit is ook byna soos ’n voltooide sirkel, want my ma het al baie hartseer in die lewe ervaar en nou is sy by haar eie oase – aan die voete van die Here,” verduidelik Carma.

In die musiekvideo pronk Carma in ’n pragtige, vloeiende donkergroen ontwerpersrok tussen duine net buite Krugersdorp.

“Oase” word beskryf as ’n kragtige ballade met ’n country-aanslag.

“Mense moet na ‘Oase’ wil luister vir hoop, as hulle hartseer is, as hulle nostalgies wil raak en ook as hulle sommer net nuwe en goeie herinneringe wil maak,” sê sy.

Carma is ook ’n onderwyseres van Potchefstroom wat glo dat elke droom wat ’n mens het deur God in jou geplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae