Musiekvideo: Christiaan Baartman is reg vir die kansel

Christiaan Baartman het pas ’n hartroerende nuwe enkelsnit en musiekvideo “My vrou” uitgereik, wat na ʼn troudag kyk vanuit ʼn man se perspektief. (Foto: Pink Flower Productions)

As musikant het Christiaan Baartman al by talle troues opgetree, en dáár het hy agtergekom hoe mans soms sukkel om hulle gevoelens op dié spesiale dag uit te druk.

Daarom het hy besluit om ʼn liedjie, “My vrou”, te skryf wat mans kan “help” om hulleself beter uit te druk op die groot dag. Die liedjie is onlangs uitgereik en die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Ek wou ʼn lied skryf uit die man se perspektief oor die troudag, ʼn lied wat handel oor hoe hy voel, oor sy verantwoordelikhede en oor hoe hy sy vrou gaan omvou. Daar is soveel goed wat ons [as mans] wil sê, maar nie altyd die woorde het om te sê nie,” sê Baartman oor sy jongste enkelsnit.

“Die boodskap wat ek wil oordra met die lied is dat hierdie dag so spesiaal is en ons moet dit werklik veilig hou. Ons moet met mekaar kan praat oor hoe ons voel. Dit is ʼn lied wat emosies los maak.”

Hy vertel hy skryf al ʼn geruime tydjie aan die liedjie, en dat sy musikantvriend Jattie de Beer van die groep Douvoordag hom gehelp het om die liedjie af te rond.

“Die idee van die liedjie broei al jare lank in my siel en my hart. Ek het oor die jare geleer dat dit soms beter is om as ʼn span te werk. Jattie de Beer skryf ontsaglik mooi en ons het saam gesit en in ʼn redelike kort tydjie die liedjie aanmekaargesit. Hy is ʼn woordsmid en het my gehelp om die liedjie te poleer,” sê Baartman.

“Liedjieskryf is ʼn heilige proses en jy kan dit nie doen saam met iemand met wie jy nie oor die weg kom nie. Jy moet amper saam met die persoon kan sit en praat soos ʼn beste vriend. Ek en Jattie sien dieselfde emosionele dinge raak en dit is vir my ʼn groot voorreg om saam met hom te kan skryf.”

Die musiekvideo is gedeeltelik by die Imperfect Perfection-trouvenue net buite Pretoria geskiet. Pink Flower Productions van Gauteng en Rad Photography van Jeffreysbaai het beeldmateriaal van egte troues vir die video verskaf.

“Ons het die dag toe ons die video geskiet het, benader asof dit ʼn regte troue is. Daar is ʼn meisie wat die rol van my vrou vertolk en ons hare en grimering is ook professioneel gedoen. Ons het ook ʼn  spesiale rok vir die dag gekry. Ons het dit werklik vasgevat asof dit ʼn troudag is. Vriende het saam met ons kom kuier en ons het ʼn bottel rooiwyn oopgemaak. Ek wou regtig daardie emosionele energie vasvang.”

Volgens die sanger eindig sowat 50% van Suid-Afrikaanse huwelike in egskeidings. “Dit is belangrik dat mans, of enigiemand wat besluit om te trou, verantwoordelikheid hiervoor neem. Hulle moet alles insit om die huwelik te laat werk.”

Baartman is al byna twee dekades lank in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik toe hy 19 was. In 2009 het hy ’n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen vir liedjieskrywer van die jaar en sedertdien het hy 12 no. 1-liedjies geskryf, waarvan sewe in sy tweede album, Huppel in my stap (2012), verskyn het. Hierdie veelsydige ster het ook in 2016 ’n Ghoema verower. Verder het hy saam met Johnny Late opgetree as die Bearded Man Band.

“Hoewel musiek my passie is, studeer ek tans ook om ’n pastorale berader te word – iets wat my al sedert my tienerjare na aan die hart lê. Ek is disleksies en het ook aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS). Hulle het gesê dat ek nooit behoorlik sou kon lees of skryf nie. Nou is ek al besig met my sewende diploma.”

Baartman glo daaraan om musiek met betekenis te maak. “Musiek is mooi en kom in verskillende vorme en groottes, net soos mense. Enige mooi wysie of liriek trek my aan.”

  • Die liedjie “My vrou” is aanlyn beskikbaar op Distrokid.com.
  • Volg Christiaan Baartman op FacebookInstagram en YouTube vir inligting oor sy musiek en optredes.
  • Christiaan het met Maroela Media gesels oor “My vrou”. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.