Musiekvideo: Debuut vir Marisa, ʼn egte ‘plaasmeisiekind’

Marisa. (Foto: Facebook/Marisa Plaasmeisiekind)

As jy lief is vir die plaaslewe, sal jy beslis aanklank vind by Marisa se heel eerste enkelsnit, “Plaasmeisiekind”.

Hierdie rustige kontemporêre liedjie, uit haar eie pen, stel dié talentvolle sangeres aan die publiek voor en vertel hoe die plaaslewe haar laat voel. Die musiekvideo vir die liedjie is ook pas uitgereik en is vandag (Donderdag) eerste op Maroela Media te sien.

“Ek het op ’n kleinhoewe grootgeword wat aan ’n plaas gegrens het. Hier het ons kettie geskiet, kleilat gespeel, grotte verken, vrugte van die boom af geëet en fiets gery tot die son sak. Dit was ons stukkie hemel,” verduidelik dié borrelende sangeres en liedjieskrywer.

“Plaasmeisiekind” is ’n lied wat terugkyk na oomblikke waar tyd nie bestaan het nie, waar die eenvoud van die lewe nog kosbaar was. Dit was toe pret min geld gekos het en dit nog veilig was om buite jou tuiste se mure en hekke te speel.

Volgens Marisa het sy en haar man onlangs weer ’n stukkie grond buite die dorp gekoop en is sy in haar element met die plaasgrond onder haar voete. Dit is wat “Plaasmeisiekind” se lirieke geïnspireer het.

“Ek dink mense hou van iets wat eg en opreg is. ‘Plaasmeisiekind’ is eg aan wie ek is en die lied is gebore uit my hart. Dit gaan mense die geleentheid bied om nie net te sien wie ek is nie, maar eerstehands die plaasmeisiekind in my te beleef.”

Buiten dié enkelsnit is daar vele meer wat op luisteraars wag, sê Marisa. “Liedjies wat deur God geïnspireer is en wat moed en hoop bring. Ek kan nie wag om dit te deel nie.”

Die musiekvideo van hierdie pragtige snit is op vriende se wildplaas by Derby deur Johan van Vuuren van J&N Photography and Films geskiet en is geïnspireer deur haar eie kinderjare.

“Ons is vyf kinders en drie van ons se ouderdomme is naby aan mekaar. Ons het altyd alles saam gedoen. Ek wou buite wees saam met my boeties en het my rokkies ver weg gebêre sodat hulle nooit kon sê dat ek té dogtertjie was om met hulle te speel nie,” glimlag Marisa.

Marisa is ’n veelsydige en talentvolle kunstenaar wat al van kleins af versot is op musiek en het gereeld, haarborsel in die hand, saam met haar gunstelingsangers gesing.

Sy het egter eers twee jaar gelede professioneel begin musiek maak en verklap dat sy dit baie geniet het om tyd in die ateljee deur te bring om haar musiek op te neem.

Sy het ook verskeie ander optredes by funksies en ander geleenthede op haar kerfstok. Sy vind aanklank by musikante wat betekenisvolle musiek maak soos Riana Nel, Steve Hofmeyr, Tarryn Lamb, Riaan Benadé, Demi Lee Moore en Theuns Jordaan. Sy sou ook nog graag ’n lekker plaasliedjie saam met Appel wou opneem.

Marisa en die orkes op die stel van die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n voltydse tuisteskepper, vrou en ma van twee, wat lief is vir die Here en dit geniet om ’n veilige en liefdevolle hawe vir haar gesin te skep. Tans is sy ook besig om te werk aan haar debuutalbum saam met die vervaardiger Tjaart van der Walt.

“Ek glo met my hele hart dat mense, wie se harte soos myne klop, met die lirieke van ‘Plaasmeisiekind’ sal kan vereenselwig omdat hulle trotse Afrikaner-kinders is, net soos ek. Selfs as jy nie van die platteland af kom nie, sal hierdie snit jou laat voel asof jy saam met my daar is.”

“Plaasmeisiekind” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Plaasmeisiekind”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Alexander

Nie geweet ‘n “egte plaasmeisiekind” kan so erg ge-photoshop wees… sjoe :D