Musiekvideo: Deon Dee lê rou emosies bloot met musiek

Deon Dee. (Foto: Verskaf)

As jong seun het die sterre reeds in die musikant Deon Dee se oë begin blink om eendag op die groot verhoë van die wêreld musiek te maak.

Sy pa is die eienaar van die bekende SinkShack-venue in Bronkhorstspruit. Hiér is Deon aand ná aand blootgestel aan van die land se beste kunstenaars en as tienjarige seun het hy reeds begin kitaar speel.

Sy Afrikaanse debuutenkelsnit, “Lewe”, is pas uitgereik en is ʼn rou en eerlike liedjie oor jou vermoë om jou eie lewe te verbeter, hoe moeilik dit ook al mag wees.

Hoewel hy al bykans twee dekades deel is van die musiekbedryf en vir groot name soos Jo Black en Roan Ash kitaar gespeel het, voel hy met die uitreiking van “Lewe” dat hy vir die eerste keer sy eie stem vind en sy stempel op die Afrikaanse musiekbedryf afdruk.

“Ek is al baie lank in die musiekbedryf, eintlik maar my hele lewe lank. Maar ek het nooit geweet wat ek wou sê nie. Ek het nie geweet wat ek wou agterlaat nie.”

Die sanger bieg dat die eerlike lirieke uit ʼn persoonlike plek van seer gespruit het nadat hy onlangs deur ʼn moeilike tyd gegaan het.

“Ek self vind die lewe partykeer redelik swaar en moeilik en voel soms asof die lewe my ʼn onreg aandoen. Ek probeer so hard moontlik om my situasie en eie lewenspad te verbeter deur die beste weergawe van myself te wees, asook te fokus op dinge waarvoor ek aanspreeklikheid kan aanvaar,” vertel Deon oor die liedjie.

Deon Dee. (Foto: Verskaf)

“Lewe” is saam met Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties-faam geskryf. Kennedy het ingestem om die liedjie saam met Deon te skryf nadat sy meisie, die musikant Janie Bay, hom genader het oor die moontlikheid om saam met Deon te werk.

Peach van Pletzen het die vermenging behartig terwyl Ruan Graaff die liedjie vervaardig het. Deon en Graaff bestuur saam die produksiemaatskappy Dee Graaff Productions.

“Al stort alles in duie, is daar steeds iets wat jy kan probeer om beter te vaar van jou kant af. Ek is ver daarvan af en sukkel self soms om positief te bly. Dit gaan nie net daaroor om oukei te wees nie, maar eerder om beter as gister te probeer wees.

“Dit was een van die moeilikste goed wat ek al ooit ervaar het. In daardie tyd moes ʼn paar dinge verander in my lewe. Ek moes moeilike gesprekke hê en baklei vir respek. Ek moes mense verloor vir wie ek lief was. Ek moes leer om vir myself op te staan.

“Ek moes leer om myself emosioneel te kan uitdruk, en ek leer nog steeds. Die liedjie gaan juis dáároor: Verander jou lewe en moenie moed opgee nie – en as dit móét, kry hulp.”

Deon Dee. (Foto: Verskaf)

“Lewe” is tydens vlak 5 van die inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie geskryf. “Ek is so dankbaar dat Hunter bereid was om hierdie liedjie saam met my te skryf. In my oë is hy die beste Afrikaanse liriekskrywer ooit.”

Aangesien dit vlak 5 van die inperking was, kon hulle nie saam in een vertrek skryf nie en het via WhatsApp idees, lirieke en stemboodskappe uitgeruil en die liedjie só voltooi.

“Ek wil met die liedjie die luisteraars motiveer om te begin dink oor wie hulle is, wie hulle sê hulle is en wie hulle werklik wil wees.”

Die musiekvideo is in Stellenbosch geskiet deur Damiane van Reenen. Wade Lambert het die fotografie behartig.

“Dit was ʼn spesiale projek vir almal wat daarby betrokke was. Ek hoop dat mense die video net soveel gaan geniet soos wat ons dit geniet het om dit te vervaardig.”

Volgens die sanger inspireer musiek hom om te sing en te skryf. “Ek kyk na musikante en die moeilike lewe wat hulle soms lei weens hul passie vir musiek en die gejaag na geluk. Dit inspireer my, want ek jaag altyd geluk na. Dit inspireer my – mense wat najaag, vind, verstaan en behou.”

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.