Musiekvideo: ‘Die lappop’ spog met ʼn nuwe leerbaadjie

Johan, Martin en Jan-Mattys het by Maroela Media kom kuier en gesels oor die musiekvideo van “Die lappop”. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Afrikaanse kinders het geslagte lank met die kinderliedjie “Die lappop” grootgeword en nou, te danke aan die groep Tussen Sterre, het dié liedjie ʼn nuwe baadjie gekry in ʼn verwerkte weergawe wat pas uitgereik is.

Die musiekvideo van die drie manne se “Die lappop” is vir die eerste keer aanlyn net hier op Maroela Media te sien.

“Ons ken dié liedjie al van ons kinderdae af en sing ons weergawe al ʼn rukkie lank by ons vertonings,” het Sybrand van Dyk, een van die drie lede van dié groep, vertel.

Volgens Martin Clifford Earle, nog ʼn lid van die groep, het hulle besluit om ʼn rock-liedjie van “Die lappop” te maak. Die groep is telkens verras deur die ongelooflike reaksie wat dié weergawe kry as hulle dit in hul konserte sing.

“Dit is juis dié reaksie wat ons laat besluit het dit is nou tyd is om die liedjie op te neem en ons aanhangers kan maar weet ‘Die lappop’ sal ook in ons volgende album ingesluit word,” het Earle gesê.

Bettie Misheiker het dié liedjie in die vroeë sestigerjare geskryf en sedertdien het dit dekade ná dekade die jongspan vermaak.

Die manne van die groep Tussen Sterre het ook die muur in Maroela Media se ateljee geteken. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Die liedjie was ook ʼn paar jaar gelede in Maroela Media se top-tien in die kinderliedjie-kategorie toe lesers gevra is om in ʼn veldtog in 2013 te help om die “grootste Afrikaanse liedjie van alle tye” aan te wys.

Jan-Mattys van Lill, die derde lid van die groep, het bygevoeg dat die publiek met dié weergawe ook nostalgies aan hul kinderjare sal terugdink.

“Ons hoop dit laat ʼn glimlag op die gesig van elkeen wat na die liedjie luister. Mense moet sommer lekker kliphard saamsing en dit geniet, nes ons maak wanneer ons dit sing,” het Van Lill gesê.

Die musiekvideo van Tussen Sterre se weergawe van “Die lappop” is onlangs by Laerskool Dr. Havinga in Krugersdorp, wes van Johannesburg, verfilm. Dit vertel die storie van drie boekwurms by ʼn skoolsokkie en in dié prettige video verander al die kinders by die sokkie in karakters in dié liedjie – van ʼn vrot pampoen tot die stukkende skoen kry lewe. Dit is eers aan die einde dat die boekwurms besef dit was alles net deel van hulle eie wilde verbeelding.

Hierdie weergawe het die moontlikheid om soos die spreekwoordelike oorwurm in luisteraars se kop vassteek.

  • Volg Tussen Sterre op die groep se sosiale media op Facebook, Twitter en Instagram.
  • Tussen Sterre het in Maroela Media se ateljee ʼn draai gemaak. Die manne het gesels oor hulle weergawe van “Die lappop” en die musiekvideo wat hulle daarvoor verfilm het. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Geniet die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maria M S ·

Ek het in Sub A, by Hoërskool Nuwerus, Namakwaland, die hoofrol, as die Lappop, in die skoolkonsert gespeel.
Goeie ou dae.

Johan Venter ·

Maria, ek is in Nuwerus in 1950 gebore! My pa het daai jare daar onderwys gegee.

Stuiwer ini armbeurs ·

Ek is geskok oor julle musiekvideo opname keuse. Is die video ouderdoms gepas? (ek is seker die gene wat nagklubs ondersteun nie meer lappop luister nie). Julle verwerling is “catchy” ja, maar onpanpas

Kremetart ·

Ek is ook geskok!! Ek roep my kinders nader omdat die lappop een van hul gusteling kinderliedjies is. Ons almal staan geskok en kyk. My 8jarige vra of hulle dronk is. Ek weet nie of ek moet afsit en of dit gaan beter raak nie. Nee dit raak net erger. Wat is die les wat die video probeer oordra? Jy moet ‘gesuip’ wees on n partytjie te geniet. As jy ‘gesuip’ is, lyk enigiemand mooi? Sies, dis ‘n swak video. Ek is bitter jammer my kinders moes dit aanskou!!!!

Johan Venter ·

Ek beloer nou ook die video vir die eerste keer. Ek het nie probleem met hul manewales nie en ek moet erken ek het nie die woorde gevolg nie, maar so ‘warm’ sangers ou liedies weer deesdae op (hierdie was nou nie eens afstof nie). Wat my kwel is dat hulle doen hierdie liedjie en diegene wat dit in die verlede gesing het, ‘n groot oneer aan, dit uit die geskiedenis. Ek daag hulle uit om ‘Seeman” van Gé te verwerk na Rock toe, en wat van David Cramer se Jantjie of Mimi Coertse se ‘O Boereplaas’ of ‘Liefste Madelein’?

Gryp die FAK en wurg die klanke! Go man Go!

Genade!

Die naam van die lied moet verander word na Die Slappop of Die Pappop.

Vonkprop ·

Nee liewe aarde, hulle het een van die beste Afrikaanse kinderliedjies gevat en dit heeltemal opgemors. Ek weet nie hoe om dit in woorde te sit nie maar niks kom bymekaar nie. Die ritme pas glad nie by die liedjie nie. Die video is heel uit pas met die betekenis van die woorde. Alles gaan mos deesdae oor drank, partytjie en goedkoop liefde. Hoe bring julle lappop by ‘n klub uit? Tussen Sterre, doen ons Afrikaanse nasie ‘n guns en doen een van twee dinge, verdwyn van die Afrikaanse toneel af of maak julle eie musiek en los oorspronklike liedjies uit. Gaan leer by Heuwels Fantasties hoe hulle Ballade vir ‘n Enkeling afgestof en modern gemaak het sonder om die liedjie enigsins op te mors.

Johan Venter ·

Nou waarom verwerk julle nie Steve Hofmeyr se liedjie ‘Pampoen’ na rock toe nie en dan kyk ons wat gebeur?

Maar kyk as ‘n liedjie se naam lekker klink en daar is grepe of hier en daar ‘n woord wat die jonklomp kan uit jil, al het hulle nie idee van waaroor die lied gaan nie en dit ‘doef doef doef’, oorverdowend swaai hulle die arms en gaan mal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.