Rita Li sing in haar jongste enkelsnit, “Hartland”, oor die plek waar sy veilig voel en met dié nuwe liedjie hoop sy elkeen sal ook hul eie spesiale hartland koester.
“Dit is ’n plek waar ek geborge voel. Waar dit nie saak maak hoe ek lyk nie en ek sommer met my kamerjas en pantoffels gemaklik kan wees – saam met diegene vir wie ek die liefste is,” het sy vertel.
Vir haar is haar hartland die plaas waar sy grootgeword het by Clocolan in die Vrystaat en waar haar ouers steeds bly.
Richann Brüssow, van die sangduo Reën, het “Hartland” geskryf. “My hartland is op die plaas waar ek bly – hier waar ek grootgeword het, vandag op boer en wat my inspireer om liedjies te skryf,” het Brüssow vertel, wat ook aan kykNET se gewilde maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou deelgeneem het.
“’n Hartland verwys ook nie nét na ’n plek nie, maar soos my man Paul sê, dáár waar jou mense is. As jy die mense uithaal uit die omgewing, haal jy ook die hart daaruit.
“Ek hoop dat mense na die liedjie sal luister en sommer ook beelde van hul spesiale hartland-oomblikke sal sien,” het Rita Li bygevoeg.
Volgens haar kan dit vir elkeen iets anders wees, maar as sy die luisteraar daaroor laat dink het, het sy haar doel met die liedjie bereik.
Maroela Media se lesers kry Sondag die eerste kykie na dié snit se musiekvideo, wat op Rita Li se ouers se plaas by Clocolan verfilm is.
“Dis so spesiaal dat die mense vir wie ek lief is ook in die musiekvideo kon wees.”
Rita Li se sangloopbaan het in 2019 afgeskop toe sy as sportfisioterapeut haar eie praktyk se deure toegemaak het om die nuwe hoofstuk as sangeres te begin.
“Daar was al soveel goeie oomblikke en mooi herinneringe wat ek kan koester,” het sy van dié skuif vertel.
Haar album, Roekloos verlief, wat in 2021 uitgereik is, is ook onlangs vir ʼn Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) in die afdeling vir beste pop‑album genomineer.
Snitte soos “My eerste my Laaste” en “Iemand Anders” – ʼn snit deur Dewald Wasserfall en Danny Smoke – is ook baie goed deur die publiek ontvang met “Iemand anders” se musiekvideo wat ook bykans 100 000 kykbeurte op YouTube gekry het.
Rita Li het ook onlangs haar eie YouTube-reeks, Vuurwerke met Rita Li, bekendgestel. In dié reeks se episodes gesels sy met inspirerende rolspelers. Loer gerus na haar kanaal hier.
“Hartland” is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.
Kyk hier na die musiekvideo van “Hartland”: