Musiekvideo: Emil Paul leef nou vir die reën

Emil Paul is nie net ‘n sanger en liedjieskrywer nie, maar ook ‘n fotograaf. (Foto: Verskaf.)

Sien jy die storm wat daar is om jou te breek, of sien jy die reën wat jou help om te groei?

So gesels die sanger Emil Paul oor die inspirasie agter sy jongste enkelsnit se musiekvideo wat Donderdag vir die eerste keer op Maroela Media gesien kan word.

“ʼn Mens word soms so vasgevang en oorweldig deur die situasie waarin jy jouself bevind op ʼn spesifieke oomblik in jou lewe, dat dit maklik kan voel asof alles jou soos een groot golf wil verswelg. Maar eintlik lê die oplossing daarin om net jou denkwyse te verander,” sê hy.

“In die reën”, ʼn liedjie uit Paul se pen, het hy geskryf nadat hy self ʼn persoonlike stryd oorwin het.

“Musiek en die skryf daarvan het my al van kleins af gehelp om deur moeilike tye te werk. Dié snit is geen uitsondering nie.”

Met dié snit hoop Paul ook om die negatiwiteit oor die Covid-19-pandemie te verlig met die positiewe boodskap wat die liedjie wil bring. Hy wil mense aanmoedig om te vergeet van die storms waarin hulle hulself tans mag bevind en vra om eerder te leer hoe om die reën van die lewe te ontvang.

Hoewel die enkelsnit vervaardig is voor die virus as ʼn pandemie verklaar is, en nie ʼn spesifieke rol gespeel het in die skryf van die liedjie nie, glo Paul dat “In die reën” tog wel troos kan bied vir mense wat hierdie tyd as moeilik ervaar.

Paul sê hierdie liedjie was vir hom eintlik ʼn soort doen-dit-self projek. Hy studeer tans klankingenieurswese, wat hom in staat stel om sy eie musiek te skryf, dit tegnies te versorg en self die opnames te doen.

“Dit was vir my ʼn groot uitdaging om die snit self te vervaardig omdat die liedjie my so na aan my hart lê. Ek het nie gedink dat ek dit self goed genoeg sal kan doen nie,” erken Paul. Ná ʼn paar weke se heen-en-weer verander aan die vervaardiging was hy tevrede met die resultate en kon die snit by die ander 11 liedjies in sy album gevoeg word – ook sy eie skryfwerk.

Paul sê hy is tans besig om aan nuwe musiek te werk, maar hy volg nou een streng reël wat hy vir homself gestel het: hy maak nou musiek op sy eie voorwaardes.

“In die kort tyd wat ek in die musiekbedryf is, was onsekerheid ʼn reuse-uitdaging. Ek het dikwels net gefokus op musiek wat ek gedink het ander mense wil hoor, maar myself nooit gevra wat ek self wou uitreik nie. Aan die einde van die dag moet ek ook tog lief wees vir my eie musiek. Dit is hoe ek dit nou benader.”

Dit is hierdie introspeksie wat Paul geleer het om heeltemal selfstandig as kunstenaar te wees en om só seker te maak dat die produk wat hy uitreik “ʼn 100% Emil” is.

Hy was ook aktief betrokke by die verfilming van die musiekvideo van “In die reën”. Paul het elke deel van die produksie self beplan en die video is met die hulp van sy neef, Brendan Paul, verfilm. Paul het ook die uitreiking van die snit en musiekvideo self behartig.

Die enkelsnit is te hoor in Paul se debuutalbum Begin net oor wat in Oktober 2019 uitgereik is.

‘n Skermsgreep uit Emil Paul se jongste musiekvideo met die titel “In die reën”.

Paul het bekendheid verwerf toe hy in 2019 ʼn plek los gesing het in Francois van Coke se span tydens die derde seisoen van die plaaslike realiteitsprogram The Voice SA. Dit het hom gemotiveer om harder as ooit te werk aan sy eie musiek.

Hy is tans besig om liedjies te skryf vir Coleske Artists, produksiehuis vir van die land se grootste kunstenaars. Hy is ook tans besig om ʼn internskap te voltooi by Muse Studios onder leiding van Hugo Ludik.

Paul het in ʼn musikale huis groot geword in Paulpietersburg in KwaZulu-Natal, waarna hy na Pretoria verhuis het om sy studies te voltooi. Dit was tydens dié proses dat besluit het om ʼn loopbaan in musiek te volg.

Hy het een belangrike les geleer in die kort tyd wat hy in die bedryf is: “Fokus op jou eie werk en moet jou nie laat beïnvloed deur ander mense se opinies nie. Aan die einde van die dag is elkeen besig om aan sy eie legkaart te werk…. Dit het my ook geleer hoe meer selfstandig ek kan wees, hoe meer ek daarby sal baat.”

“In die reën” is beskikbaar op alle digitale platforms. Volg Paul op Facebook, Instagram, Twitter of YouTube.

Geniet die musiekvideo saam met Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.