Musiekvideo: Gedig oor verlies word roerende lied

Leandie Lombaard Bräsler. (Foto: Verskaf)

Die lirieke van die sangeres en liedjieskrywer Leandie Lombaard Bräsler se jongste enkelsnit sluit ʼn gedig oor verlies deur Alta Strauss in. Leandie het self dié gedig getiteld “Kaggelvuur” getoonset.

Die gedig is oorspronklik gepubliseer as deel van die Solidariteit Helpende Hand se digbundel, Steeds vrou. Dié digbundel bevat 40 gedigte uit die pen van Alta Strauss, skrywer en motiveringspreker, en René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand, en vorm deel van Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie).

“Kaggelvuur” is op 26 November verlede jaar uitgereik en ʼn splinternuwe musiekvideo is in Desember bekend gestel. Die video is deur Conrad Theron van Dapper Media geskiet en vervaardig en is reeds duisende kere op YouTube gekyk.

Leandie vertel dit was Alta se voorstel dat sy spesifiek die lirieke vir “Kaggelvuur” toonset. “Ek en Alta het een middag oor ’n koppie koffie gesit en gesels en toe vra ek vir haar of ek nie een van haar gedigte kan toonset nie. Sy het baie opgewonde voorgestel dat ek ‘Kaggelvuur’ moet toonset. Die gedig is mooi, kort en kragtig en wek soveel emosie.

“Ek kon dit wel net vir die koorgedeelte van die liedjie gebruik. Ek het toe vir Alta gevra of ek ekstra woorde kan skryf vir die verse sodat ʼn hele liedjie gevorm kan word en sy het toestemming gegee dat ek die gedig my eie kan maak en die lirieke verder skryf oor wat die gedig vir my beteken.”

Volgens Leandie, vir wie dit ʼn eerste was om ʼn gedig te gebruik vir die basis van ʼn liedjie, het die gedig ʼn gevoel van verlange by haar gewek.

“Wanneer jy voor ’n kaggel sit, of eintlik wanneer jy sit en na enige vuur staar, raak ʼn mens nostalgies en verlang jy sommer na iemand wat jy nie eens ken nie.”

Leandie (26), is saam met Natasha Smit deel van die Bid is Braaf-bediening, wat ten doel het om volgens die Woord van God en deur middel van getuienisse tot meisies van Suid-Afrika deur te dring en hulle aan te moedig om vir hulle toekomstige lewensmaats te bid.

Sy het ook voorheen twee enkelsnitte, “Racheltjie de Beer” en “Man soos pa”, ʼn liedjie wat sy spesiaal vir haar pa geskryf het, uitgereik. Sy dra egter “Kaggelvuur” op aan haar man, sê sy.

“Die melodie het ek ook só geskryf dat dit by die gevoel van verlange pas. Ek wil hê dat wanneer mense die lied hoor, hulle moet voel soos wat ek gevoel het toe ek die lied geskryf het. Hulle moet die emosie kan voel – dit is kuns.”

“Kaggelvuur” is op alle digitale platforms beskikbaar. Steeds vrou is beskikbaar teen R120 by www.steedsvrou.co.za of [email protected].

Kyk hier na die musiekvideo vir “Kaggelvuur”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.