Musiekvideo: Geestelike snit skep hoop ‘deur diepe waters’

Die sangduo Jacques en Liezel se splinternuwe enkelsnit, “Vashou”, is onlangs uitgereik. Die liedjie spog ook nou met ʼn splinternuwe musiekvideo.

Die duo sê dié kontemporêre geestelike snit is geskryf om vir luisteraars hoop te gee in moeilike tye.

“Om in alle tye en omstandighede op te kyk na God en vas te hou aan waar ons hulp vandaan kom. Ons is self deur diep waters tydens die inperking en het besef dat God die enigste anker is waaraan jy kan vashou in sulke tye,” sê die twee musikante.

“Daar is mense wat so baie verloor het in hierdie afgelope twee jaar, maar ten spyte van wat die lewe na jou kant toe gooi, wil ons graag vir mense sê dat as jy vir God het, jy alles het wat nodig is.”

Hulle jongste uitreiking is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en word vergesel van ’n pragtige musiekvideo wat die boodskap van die lied perfek vasvang.

Die video is deur Huntsman se Adriaan Venner Scheepers in KwaZulu-Natal geskiet en die paar is dankbaar dat die natuurelemente saamgewerk het om die perfekte eindresultaat te skep.

“Omdat die lirieke praat van ‘diepe waters, donker see, mis’ ensovoorts, het ons van die begin af gesê dat ons die video graag by die see sal wil skiet,” verklap hulle.

“Alles het in plek geval dat ons dit wel so kon doen, met vriende en familie wat uitgereik het na ons om die musiekvideo ’n moontlikheid kon maak. Ons vriendin en danser, Megan Knipe, is ook in die video te sien en ons het almal koppe bymekaar gesit om die perfekte storie te skep.”

“Vashou”, wat aanvanklik ʼn gedig was, volg in die voetspore van “Uit my hande” en “Wonder van Kersfees”, wat albei goed ontvang is en goed presteer het op treffersparades regoor die land.

Jacques en Liezel. (Foto: Facebook)

Sedert Jacques Schoeman en Liezel Marshall in November 2021 hul toetrede tot die musiekbedryf gemaak het, het hulle nog net van krag tot krag gegaan.

Dié musiekpaar, wat op Facebook ontmoet het, is reeds volstoom aan die gang vir die jaar en beplan om binnekort hulle eerste Engelse country-liedjie uit te reik. Verder is hulle ook besig om hulle eie sakeonderneming op die been te bring, nuwe liedjies te skryf en regstreekse optredes te reël.

Buiten vir musiek geniet Jacques dit om ou motors te restoureer, tyd saam met sy seuntjie deur te bring en om saam met sy vriende te braai.

Liezel was vir ’n paar jaar deel van die groep Onbeskaamd en het al ’n Ghoema-benoeming agter haar naam. Wanneer sy nie musiek maak nie, hou sy van perdry en fotografie en kuier sy ook graag saam met vriende.

“Vashou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.