Musiekvideo: Gerhard Steyn herinner ons aan die krag van liefde

Gerhard Steyn (Foto: Verskaf.)

Met sy nuwe enkelsnit, “Groter as Goliat”, wat op Lentedag vrygestel word, sing die immergewilde Gerhard Steyn oor die liefde en hoe magtig dit is as jy jouself daarmee omring.

“Ek is bevoorreg om die ware betekenis van liefde te ervaar met my eie gesin en het net weereens besef – die liefde oorwin alles.

“Dit is lekker om lief te hê én om liefde te ontvang. Ek hoop met dié liedjie kan ek vir ’n paar minute net daardie hoendervleis-ervaring met die luisteraar deel.”

Volgens Steyn is alles wat hy doen vir sy geliefdes en dit is hulle en hul liefde wat hom gemotiveerd hou.

Sy aanhangers het lank gewag vir nog ʼn treffer van hom, maar met hierdie liedjie se koor en ʼn ritme wat klop, sal aanhangers die woorde soos ’n kreet kan saam eggo as hy singend vertel dat die liefde sterker is as Simson en groter is as Goliat.

In die musiekvideo, wat ook op Dinsdag 1 September saam met die enkelsnit vrygestel word, word Steyn in sy gemaksone gesien: met ’n kitaar in sy hand. Die kitaar wat in dié musiekvideo gebruik word, is ook in die musiekvideo van sy treffer “Diamante vir jou” gesien.

Steyn het onlangs by die gesogte platemaatskappy Coleske Artists as kunstenaar aangesluit en bevind hom hier in die geselskap van die land se grootste kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Riana Nel, Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk, Jay, Ruhan du Toit en vele ander.

“Ek is so opgewonde oor dié nuwe hoofstuk van my loopbaan en saam gaan ons sommer groot gaan,” het Steyn gesê.

“Groter as Goliat” is uit Steyn se eie pen en as liedjieskrywer was hy ook onlangs betrokke by die treffer “Monumentaal” wat die afgelope maand deur Ruhan du Toit, ook onder Coleske Artists se vaandel, vrygestel is.

“Dit was nou so ’n lekker projek om aan te werk saam met ’n klomp wonderlike nuwe kollegas. Ek is altyd opgewonde om saam met ander liedjieskrywers ’n projek aan te pak, want met soveel kreatiewe siele in een vertrek kan daar net groot goed gebeur,” skerts hy.

Die nuweling in die Coleske Artists-familie, Riaan Benadé, het saam met Steyn aan “Monumentaal” geskryf met Paulo Azevedo as vervaardiger.

Gerhard Steyn herinner almal aan die kragtigheid van liefde in sy jongste enkelsnit “Groter as Goliat”. (Foto: Verskaf.)

Nadat Gerhard die Afrikaanse musiekbedryf op hol gehad het met sy treffer “Baby Tjoklits” in 2009, wat ook met verskeie pryse vereer is, het hy aanhangers bederf met sy veelsydige talent en kon musiekliefhebbers ook die ander sy van Steyn geniet met onder meer ’n duet-album, Tydloos, in 2011 saam met liedjieskrywer en sanger Richard van der Westhuizen.

Steyn is ook nie ’n vreemdeling op die verhoog, silwerskerm en voor die TV-kameras as aanbieder nie. Hy het in 2015 die hoofrol in die fliek Forsaken vertolk wat as lewensdrama op ’n ware verhaal gegrond is en ’n intense, positiewe boodskap oordra. Daarna was hy ook te sien Sewentig x7 in 2016 en die volgende jaar vertolk hy die rol van Jesus in die plaaslike toneelstuk The Passion of Christ. In 2017 skop hy en die akteur Alvin Bruinders af met hul eie TV-program, Konings van Kitskos, vir die Afrikaanse TV-kanaal, VIA. Dié reeks se vyfde seisoen word tans uitgesaai.

As Steyn nie besig is om liedjies te skryf of voor die TV-kameras is nie, geniet hy sy vrou, Zelri, en twee spruite, Zardi (3) en Zanique (10 maande), se geselskap by die huis.

Hy is ook mede-eienaar van die suksesvolle venue Live@Wildebeest in Boksburg wat reeds drie jaar terug sy deure geopen het nadat hy besluit het om dié droom van hom na te jaag.

Steyn is ook op Donderdag 24 September, op Erfenisdag, deel van die produksie Monumentaal wat regstreeks aanlyn gestroom sal word. Ook deel van dié produksie is Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Ruhan du Toit, Adam Tas, Ricus Nel, Jay, Dewald Wasserfall, Ivan Roux, Riaan Benadé en Ghapi. Kaartjies is slegs deur Computicket beskikbaar teen R120 per toestel – klik hier om ‘n kaartjie te koop.

Die enkelsnit, “Groter as Goliat”, kan nou orals op digitale platforms geniet word. Kyk die musiekvideo net hier op Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.