Musiekvideo: Henri Alant skep hoop met ‘Jy is lig’

Henri Alant. (Foto: Melanie Kriel)

Met treffers soos “Cupid”, “In jou drome”, “Dis jou soen” en “Een somersaand” wat op verskeie radiostasies se treffersparades geboer het, het die sanger en liedjieskrywer Henri Alant ʼn stewige ondersteuningsbasis op die Afrikaanse musieklandskap opgebou.

Nou is hy terug met die enkelsnit “Jy is lig” en die musiekvideo vir dié liedjie is vandag (Saterdag) op Maroela Media te sien.

Alant sê hy wil met “Jy is lig” poog om veral in die onsekere tye waarin ons leef, luisteraars te laat besef dat elke oggend ʼn nuwe dag aandui en dat daar wel ʼn lig aan die einde van die tonnel is.

Die sanger vertel dat hy al sowat vier jaar aan die wysie van die liedjie vashou, maar dat die regte lirieke vir die liedjie aanvanklik sukkel-sukkel bymekaar gekom het. Die lirieke is saam met Ferdi Steyn Eicker geskryf.

“Ek was ʼn ruk gelede op ʼn punt waar ek net lig in my lewe gesoek het. Die woorde ‘jy is lig’ het by my vasgesteek en in Oktober verlede jaar het die lirieke vir die liedjie skielik binne enkele minute in plek geval. Ek wou die boodskap uitdra dat jy goed genoeg is net soos wat jy is.”

Hy vertel die konsep vir die musiekvideo is anders as sy vorige musiekvideo’s wat hy met groter begrotings aangepak het.

“My vorige video’s het almal karakters en storielyne in gehad, maar met hierdie een wou ek net rou emosie uitbeeld en die kyker aanmoedig om sy eie boodskap te vind. Die video beeld ʼn dogtertjie uit wat in haar eie droomwêreld is. Sy stap in die pragtige woud waar sy veilig voel, waar sy gelukkig is op haar eie en die wêreld maak haar nie bang nie.”

Volgens Alant het hy homself al as kind eendag op die verhoog gesien en werk hy sedertdien om sekere mylpale in die musiekbedryf te haal.

“Die krag van wat jy oor jou eie lewe spreek is ongelooflik groot, maar ʼn mens moet ook realisties wees. Wat my dryf om elke dag my passie in die musiekbedryf uit te leef, is die mense. Hulle laat my goed voel. As jy eerlik is en jouself opreg oop maak, sal mense van jou hou.”

Hy het onlangs saam met die bekroonde Afrikaanse sangeres Jennifer Zamudio die snit “Daar’s ʼn rede” opgeneem. Hy vertel dit was een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

“[Die musikant] Rudi Claase het die liedjie vir my gegee vir my verjaarsdag en ek het geweet ek wil dit saam met Jennifer sing. In my oë is sy ʼn superster. Ek het haar genader en sy was uiters professioneel. Die liedjie is pragtig en ek is mal oor hoe ons mekaar aanvul. As een van ons die liedjie op die radio hoor dan kontak ons mekaar, maar ek wag nog vir die braai saam met haar,” lag hy.

“Jy is lig” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.