Musiekvideo: Jan Blohm se ‘Nonnie’ visuele kunswerk

Jan Blohm in ‘Nonnie’ se video. (Foto: Lionel Smit)

Jan Blohm se jongste enkelsnit, “Nonnie”, is die volgende aflewering van ʼn boeiende verhaal wat dié talentvolle musikant met sy nuwe album getiteld Jenny vertel.

Die musiekvideo is splinternuut en is vandag (Dinsdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Lionel Smit, bekende beeldhouer, kunstenaar en videograaf, was die regisseur van die video. Die video is eenvoudig en simplisties en handel oor die verlange wat die storieverteller in die aand ervaar wanneer die lig van Nonnie se gesinshuis helder deur sy kamervenster skyn en hy nie kan slaap nie.

“Die liedjie is ook eintlik die punt waar Jenny ʼn skrywer raak en ons beeld dit uit in die video,” verklap Blohm.

Hy sê dit is die eerste keer dat hy ʼn musiekvideo opneem by sy huis op Gordonsbaai, in die ateljee waar hy verf. Hy beskou dit egter as baie gepas aangesien die liedjie hom na aan die hart lê.

“Nonnie” volg in die voetspore van liedjies soos “Jenny”, “Ou Karoo” en “Levi Jeans” wat almal boaan die treffersparades gekuier het en steeds oor die radio gehoor word.

Al die liedjies vorm deel van die konsepalbum, Jenny. Blohm beskryf dit as ʼn verhaal van twee tieners wat in die 1980’s op die klein, konserwatiewe spoorwegdorpie De Aar woon. Die storie word in 12 liedjies vertel en kan verfilm word soos ʼn rolprent.

Blohm, met sy poëtiese rockmusiek, het in 2004 sy debuut gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf en het sedertdien diep in die harte van sy aanhangers gekruip.

Sy planne vir die res van die jaar is om skeppend te bly. “Daar gebeur opwindende dinge by ons winkel, Blohmhuis, in die Strand waarby ek baie betrokke is en ek is ook besig om nuwe musiek te skryf.”

“Nonnie” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Nonnie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

Soos altyd roer Jan Blohm die hart se snare. So bly hy maak weer musiek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.