Musiekvideo: Jemma Catherine het ‘klaar gesmeek’

Jemma Catherine vertel meer oor haar jongste snit se musiekvideo getiteld “Klaar gesmeek”. (Foto verskaf)

Die boodskap van die opkomende sangeres en liedjieskrywer Jemma Catherine se jongste enkelsnit is hard en duidelik: Dié talentvolle donkerkop het nou klaar gevra, gesoebat en gesmeek.

“Klaar gesmeek” is die jongste uitreiking uit Jemma se eie pen en Maroela Media se lesers kry vandag ʼn eerste kykie na die musiekvideo.

Die liedjie handel oor ʼn verhouding wat tot ʼn einde gekom het nadat die ou die meisie verneuk het. Die meisie besluit dan om vir haarself op te staan deur te sê genoeg is genoeg.

Dit is ʼn energieke, passievolle poprock-snit met ʼn onderwerp waarby luisteraars in die algemeen sal aanklank vind. Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig. Jemma se mentor, die sangeres en liedjieskrywer Janie Bay, het insette gelewer.

“Ek dink veral die jeug kan aanklank vind by die liedjie omdat oneerlikheid baie prominent is in vandag se verhoudings en daar is ongelukkig soveel mense wat al vantevore in presies dieselfde situasie was,” sê Jemma oor die boodskap van die liedjie.

Die musiekvideo vir “Klaar gesmeek” speel af tydens ʼn dans en regdeur die video speel verskillende scenario’s gelyktydig af waar die ouens die meisies ontstel of teleurstel.

“Dit lei na die meisies wat besluit om hulle metgeselle te los en saam die aand te geniet,” sê die jong musikant oor die konsep van die video.

Die video is by die Monte De Dios-landgoed in Pretoria se hoofsaal geskiet deur CoolerBox Brothers.

“Ek glo daar is ʼn hele paar jong meisies wat kliphard saam met hierdie liedjie sal kan saamsing.”

Jemma het die nuwe jaar in die ateljee agter die mikrofoon afgeskop. Sy reik binnekort ʼn hele rits liedjies uit en het ook ʼn duet saam met ʼn ander bekende kunstenaar wat die lig sien.

Meer oor die kunstenaar

Dié talentvolle donkerkop, Jemma Catherine, het nou klaar gevra, gesoebat en gesmeek. (Foto verskaf)

Jemma skryf al sedert die ouderdom van 12 haar eie liedjies en neem reeds van die ouderdom van ses aan kunswedstryde en eisteddfods deel.

Die opkomende sangeres en liedjieskrywer het grootgeword met haar pa, Leon, se uitgebreide versameling albums van verskeie genres van musiek. Sy het van kleins af vertonings en geleenthede bygewoon aangesien haar pa ʼn geleentheidsmaatskappy, EPH Productions, besit.

“’n Groot deel van my liefde vir musiek kom van my ouers af. Hulle het my bly motiveer om hierdie droom van my te volg,” sê Jemma.

Volgens Jemma Catherine streef sy altyd daarna om eerlik te wees met haar musiek en probeer sy om altyd weerloos te wees in die oomblik met die boodskap wat sy wil oordra.

Die sangeres is ook tans besig om haar honneursgraad in verbruikerswetenskappe te voltooi, maar spits haar ten volle toe op haar musiekloopbaan.

“Ek wil sterk staan vir wat ek as kunstenaar en skrywer met my musiek wil bereik en wat ek na hierdie bedryf wil bring.”

Kyk die musiekvideo van “Klaar gesmeek” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.