Musiekvideo: Jemma Catherine is gereed om alles te gee

Jemma Catherine se jongste musiekvideo vir “Alles gee” is eerste hier op Maroela Media te sien. (Foto: Verskaf)

In haar debuutsnit, “Alles gee”, sing Jemma Catherine oor die liefde en die hartseer as die verhouding, wat eens soveel belofte gehad het, vinnig skeefloop.

Dié enkelsnit se musiekvideo is pas uitgereik en Vrydag eerste op Maroela Media te sien. Jemma vier ook die uitreiking van haar jongste musiek hierdie naweek op die gesogte Proe’toria-verhoog by Monte de Dios se buitelugfees in die ooste van Pretoria.

Jemma het vroeër in Maroela Media se ateljee kom kuier om oor haar musiek te gesels. Dié kranige sanger en kitaarspeler het as 21-jarige reeds verhoë gedeel met groot name in die bedryf soos Francois van Coke en Ruhan du Toit.

“Alles gee” gaan oor iemand wat ʼn ander persoon se hart steel en uiteindelik net daarmee mors.

“Wanneer jy in ʼn verhouding gaan, maak jy staat op die persoon om alles vir jou te gee, maar partykeer loop dit op die rotse,” vertel Jemma oor die snit.

Volgens Jemma gaan hartseer altyd oor jou pad kom, maar wat belangrik is, is hoe jy daardie hartseer verwerk en aanvaar.

“Wees kwesbaar in die liefde, dan kan jy seker wees jy bly eg aan jouself.”

Jemma sê sy glo mense sal aanklank vind by hierdie liedjie omdat dit oop kaarte speel oor die hartseer wat soms met ʼn verhouding saamloop.

Oor die klank van die liedjie sê Jemma hulle het besluit om ietwat van ʼn alternatiewe rigting in te slaan. “Dit is ʼn nuwe weergawe van Afrikaanse musiek wat ontwaak, waaroor ek regtig opgewonde is.”

In die musiekvideo speel die verhaal af van twee mense wat op pad terug is van die werk. Hulle maak oogkontak en soos wat hulle nader aan mekaar kom, is daar kort flitse wat terugspeel van hulle in ʼn verhouding. Dit wys ʼn stukkie van hul liefde vir mekaar.

Aan die einde van die liedjie stap hulle verby mekaar met terugflitse van hul verhouding en wat dit kon wees. Hulle het nooit eens ontmoet nie.

“Dit vertel die hartseer realiteit van hoe ingewikkeld verhoudings kan wees. Eendag is ʼn mens nog verlief en die volgende dag gaan ʼn mens aan asof niks gebeur het nie,” het sy bygevoeg.

Die sangeres het saam met Janie Bay aan dié liedjie gewerk en Dee Graaff Productions het dit uitgereik, wat ook verantwoordelik was vir die vervaardiging van die musiekvideo. Gesoute musikant en vervaardiger Ruan Graaff, van Dee Graaff Productions, het die vervaardiging van Jemma se musiek behartig. Deon Dee, gewilde vervaardiger en sanger en ook deel van Dee Graaff Productions, was die regisseur en vervaardiger van die musiekvideo, terwyl Wilhelm van der Westhuizen hoof van fotografie vir dié projek was.

“Ek het die melodie en meerderheid van die lirieke geskryf en Janie het gehelp om alles bymekaar te voeg. Ek dink die één ding wat vir my die meeste uitstaan van hierdie liedjie is die boodskap daaragter,” het sy gesê.

Jemma ken die vermaaklikheidsbedryf maar alte goed. Haar pa en ma, Leon en Rochelle Pheiffer, is die eienaars van die bekende klank-en-beligtingsmaatskappy, EPH Group, en organiseerders van geleenthede soos die Proe’toria-fees.

“Ek het met musiek in ons huis grootgeword en was natuurlik ook by konserte en feeste waar my pa moes wees.

“’n Groot deel van my liefde vir musiek kom van my ouers af. Hulle het my bly motiveer om hierdie droom te volg.”

Jemma neem al van sesjarige ouderdom aan kompetisies deel en skep musiek vandat sy 12 jaar oud was. Sy erken egter dat sy eers onlangs begin het om haar musiek meer ernstig op te neem.

“Ek het talle helde en gunstelinge in die bedryf, maar iemand na wie ek baie opkyk, is Janie Bay. Sy stel ʼn voorbeeld vir alle vroue in die musiekbedryf; om sterk te staan in wat jy glo,” verklap Jemma.

Jemma is tans derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria en studeer verbruikerswetenskappe.

Sy is egter vasbeslote om terselfdertyd ook alles vir haar musiekloopbaan tydens haar studie te gee.

“Alles gee” is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.