Musiekvideo: Jemma Catherine sing oor daardie staatmaker in jou lewe

Jemma Catherine (Foto: Facebook)

“Ons almal het daardie een persoon op wie jy altyd kan staatmaak en wat altyd daar is vir jou. Daardie één iemand wat altyd aan jou sy sal wees en saam jou die lang pad sal aanpak.”

Só praat Jemma Catherine oor die inspirasie agter haar tweede enkelsnit, “Almal het iemand”, wat pas uitgereik is. Die musiekvideo van die liedjie is Vrydag vir die eerste keer net hier op Maroela Media te sien.

Volgens haar is dit nie noodwendig nét ’n liefde waarna sy verwys nie, maar ook daardie spesiale verhouding met ’n vriend, vriendin, ouer of familielid.

“Almal het iemand” kom uit die pen van Janie Bay met insette deur Ruan Graaff.

In dié popliedjie se musiekvideo speel die storie oor drie generasies af. “Daar is ’n tydsprong van toe hulle jonk was tot waar hulle saam oud word. Dit wys hoe hulle hul hele lewe lank mekaar gehad het en dat hulle mekaar se ‘iemand’ was waarop hulle kon staatmaak en die lang pad mee kon saamstap,” het Jemma vertel.

Die musiekvideo is by Monte de Dios verfilm. “Dié venue was die perfekte plek om die musiekvideo te skiet aangesien ons soveel verskillende plekke benodig het om die storie uit te beeld. Die verskillende areas maak konneksies met die drie generasies waar jy dan kan agterkom dat dit dieselfde paartjie is wat saam ouer word.”

“Ek dink dit is belangrik is om te besef dat jou sielspersoon of sielsgenoot nie noodwendig die persoon is waarmee jy gaan trou nie. Liefde kan in verskeie vorme kom. Jou ‘iemand’ kan enigiemand wees. Daardie liefde is so kosbaar en moet vir niks verruil word nie.”

Jemma sal met dié liedjie graag wil hê luisteraars moet dieper luister na die woorde en betekenis.

“Baie keer luister ’n mens na ’n liedjie, maar jy luister nie ten volle nie. Ek wil hê mense moet dit inneem en hulle vereenselwig met die woorde en musiek.”

Volgens Jemma is “Almal het iemand” ’n kombinasie van mooi lirieke, interessante klanke en musiek.

Nadat haar debuutsnit “Alles gee” vroeër vanjaar uitgereik is en Covid-19-beperkings geleidelik verslap is, het Jemma die verhoog saam met verskeie groot name gedeel. Sy was deel van die gesogte Proe’toria-fees en ook Jacaranda FM se The Warm Fest in Pretoria en Nelspruit. Ander hoogtepunte sluit in Spoegwolf se tienjaarviering, Francois van Coke se Aftermatch Performance (BOXOP) en ’n optrede by Dozi’s Back to the Roots.

“Alles gee” was op verskeie radiogolwe se ranglyste en het amper 20 000 kykbeurte op YouTube bereik, iets waarop sy as nuweling baie trots is.

Haar hoop is dat “Almal het iemand” ook so goed ontvang sal word en sy nog diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf sal trap.

“Ek het nog ’n paar liedjies wat ek wil uitreik en ek glo dat Afrikaanse musiek besig is om ʼn nuwe tydperk te betree. Ek is vir ewig dankbaar om daarvan deel te wees.”

Vir haar is die mense en geleenthede wat oor haar pad kom een van haar hoogtepunte.

“Ek is dankbaar om te kan werk met sulke ongelooflike mense wat regtig die beste vir my wil hê. Alles wat ek al bereik het, is as gevolg van die familie van mense om my.”

DeeGraaff Productions het ook die produksie en verfilming van die Jemma se jongste musiekvideo behartig.

“Almal het iemand” is nou beskikbaar op alle musiekstromingsdienste.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.