Musiekvideo: Johan Anker is ‘soldaat van die Here’

Johan Anker. (Foto: Verskaf)

Johan Anker se jongste enkelsnit, “Soldaat”, is pas uitgereik. Die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Ek het ‘Soldaat’ in 2012 geskryf toe ek ’n student in my tweede jaar was. Ek het in daardie stadium deur ’n moeilike tyd gegaan en toe besef om liedjies te skryf help my om uiting aan my emosies te gee. Die proses is baie helend,” vertel Anker.

“Soldaat” het egter vir ’n paar jaar stof opgegaar totdat hy die liedjie in 2018 by die Ritmia-gemeente in Ruimsig, Johannesburg, tydens ’n jeugaand gesing het.

“Ek het die aand baie positiewe terugvoer ontvang en besef dat my eie persoonlike ervaring ook ander mense kan inspireer en hoop gee.”

Die liriek van “Soldaat” kom alles uit Johan se pen buiten die refrein, “Ek is nie ’n stapsoldaatjie nie”, wat uit die Jeugsangbundel kom.

Anker, wat voltyds skoolhou, het “Soldaat” kort voor die staat van inperking by die vervaardiger Sean Butler opgeneem.

Hoewel hy “Soldaat” ’n paar jaar gelede geskryf het, meen hy dat die liedjie veral in hierdie moeilike en uitdagende tye van die Covid-19-virus opnuut vir hom splinternuwe betekenis het.

“Dit herinner my daaraan dat die Here jou deur soveel gevegte dra, maak nie saak voor watter Goliat jy te staan kom nie. Daar’s altyd hoop, selfs in hierdie moeilike tye waartydens mense hul werk verloor en baie mense nie brood op die tafel het nie.

“Maak nie saak watter lewenstryd jy moet trotseer nie, die Here gee jou krag om daardie oorlog te veg. Ek hoop die boodskap sal ook vir luisteraars betekenis hê.”

Anker se video is by Zwavelpoort buite Pretoria geskiet.

“Ek dra eers khaki-klere in die video om die konsep van ’n soldaat wat die oorlog of lewenstryd op eie houtjie probeer voer, uit te beeld. Die heuwels versinnebeeld die opdraandes in die lewe. Aan die einde van die video breek die sonsopkoms deur en dit is weer ’n simbool van ’n nuwe dagbreek en dat ek my stryd in die Here se hande oorgee wat altyd in beheer is. Die wit T-hemp simboliseer weer die vrede wat ek in my gemoed ondervind.”

“Soldaat” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.