Musiekvideo: Lallie deel boereraat in debuutsnit

Lallie (Foto: Verskaf)

Die plaasmeisie Lallie se debuutsnit, “Boereraat”, is pas vrygestel en met dié ritmiese loslitliedjie hoop sy alle Afrikaanse musiekliefhebbers sal wil skoffel en saamsing in die feesseisoen.

“Ek was op soek na ’n lekker plaasliedjie en het vir Johan Oberholzer genader. Hy het altyd ’n wenresep en toe hy vir my dié liedjie stuur, het ek dadelik daarvan gehou,” vertel Lallie, wat self ook van die platteland afkomstig is.

“Ek hoop ‘Boereraat’ sal luisteraars se gemoedere lig en hulle dadelik in ‘n beter luim plaas.”

Sy het by Murray Lubbe, bekende musiekvervaardiger wat ook al verantwoordelik was vir treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn, Appel en meer, gaan aanklop.

“Dit was ʼn groot voorreg om dié liedjie – en droom van my – aan hom toe te vertrou,” het sy gesê.

“Boereraat” se musiekvideo is ook pas uitgereik en vertel die storie van ’n jong plaasmeisie wat bietjie boereraat oor die liefde benodig.

“Ek wou die plaasgevoel deur die musiekvideo oordra en hoop kykers sal dadelik voel hulle is op die plaas,” het sy gesê.

(Foto: Verskaf)

Lallie vertel dat haar plaaswortels diep lê en die plaaslewe loop sterk deur haar are. “Ek is gebore op Schweizer-Reneke. Daarna het ons vir baie jare op ’n plaas tussen Bloemhof en Christiana gewoon. Die plaas bly maar altyd deel van ’n mens.”

Sy is tans ʼn stadsmeisie in Pretoria en het gesê by haar brand ʼn vuurtjie altyd die grootste. “Ek is baie lief vir ’n houtjie wat knetter.”

Lallie hou ook van spoed en het vertel ’n ervaring soos op die Anaconda-pretrit by Gold Reef City is selfs nog bietjie te stadig vir haar. “Ek is ’n avontuurlustige mens, wat lief is vir mense, diere, die natuur en musiek. Ek hou van poetse bak en grappies vertel. As mense lag, lag my hart saam.”

Sy het in ’n musikale familie grootgeword en sing al vandat sy vyf jaar oud is. “Ek kan vir ure luister hoe my pa die kitaar tokkel. Ek hou so daarvan om te sien hoe daardie krom vingers, wat so hard gewerk het om vir ons te sorg, elke noot presies raak druk.”

“Boereraat” is Lallie se debuutenkelsnit tot die musiekbedryf, maar sy visualiseer hierdie droom al vir jare en voel uiteindelik reg vir die reis om haar passie uit te leef.

“Boereraat” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cindy ·

Hierdie is ‘n lekker liedjie wat mens kan luister as jy saam vriende kuier.. perfek vir langs die braaivleis vuur en laat sommer mens se voete jeuk.. Welgedaan Lallie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.