Musiekvideo: Len Muller tref met nostalgiese enkelsnit

Len Muller (Foto: Nico Welgemoed)

Wat begin het as musiek vir ʼn Kleinkaap Boutique Hotel-advertensieveldtog op kykNET, het gelei tot Len Muller se pragtige nuwe enkelsnit met die titel “Huis toe”.

Muller vertel dat die hotel hom genader het om ʼn kort musiekstuk te skryf vir hulle advertensie wat aan die einde van kykNET se komediereeks Hotel speel. “My platemaatskappy het egter meer potensiaal daarin raakgesien en my aangemoedig om ʼn volledige liedjie daarvan gemaak.”

“Huis toe”, ʼn nostalgiese akoestiese snit, is deur Gideon Botes verwerk. Dit gaan daaroor dat almal net vir ʼn rukkie op aarde is voordat hulle eendag “huis toe” gaan. Muller sê hy het veral die gelykenis van die verlore seun in gedagte gehad toe hy dit geskryf het. Hy het ook daaraan gedink hoe hy al self verlore geraak en weer die pad huis toe moes vind.

Die lied bevat ook die Zoeloe-frase “Buyel’ Ekhaya” wat “om terug te keer huis toe” beteken. Volgens die sanger wou hy nog altyd ʼn liedjie in ʼn ander taal as sy moedertaal skryf en is hy opgewonde oor die eerste tree wat hy in hierdie rigting geneem het.

“Ek dink mense gaan daarvan hou omdat die musiek jou laat droom en die boodskap agter die lied vir enigiemand iets kan beteken,” sê hy.

Dié liedjie spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo wat in Valsbaai deur Nico Welgemoed geskiet is en die regie en vervaardiging is deur Len se vrou, Chanél Muller, behartig.

Volgens Muller was ʼn toneel uit die rolprent The Secret Life of Walter Mitty die inspirasie vir die video. In die musiekvideo skaats Len op ʼn lang skaatsplank deur die mooiste dele van Suid-Afrika: Omring deur die asemrowende berge, reënboë en natuurskoon, is dit iets om te aanskou.

“Ek het nog nooit met ʼn longboard tussen berge geskaats nie en ek het ʼn week gehad om te leer voor ons die video moes verfilm. Hoewel die lied my geïnspireer het om iets nuuts te leer doen, het ek tog ʼn paar keer amper geval.”

“Huis toe” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.