Musiekvideo: Lied werp lig op Afrikaner-monumente, identiteit

Ruhan du Toit. (Foto: Francois Olivier)

Die sanger Ruhan du Toit het sowat 2 000 km in vyf dae oor die hele land afgelê om Afrikaner-monumente vas te vang soos nog nooit tevore nie. Dít vir sy nuwe musiekvideo en enkelsnit, “Monumentaal”, wat ʼn hartroerende terugblik gee op die Afrikaner se geskiedenis.

“Monumentaal” kan vanaf vandag (Vrydag) op alle stromingsdienste geniet word. Die musiekvideo is ook vandag eerste op Maroela Media te sien.

Du Toit, voorheen lid van Touch of Class, sê die hoofdoel agter die snit is om opnuut ʼn identiteitsgevoel by die Afrikaner aan te wakker.

“Dit is asof daar ʼn hopeloosheid broei onder baie Afrikaners wat verbreek moet word. Ek glo dit is nodig dat ons weer ons verlede moet onthou en trots daarop wees, sodat ons in geloof aan ’n toekoms kan bou,” sê Du Toit oor die enkelsnit.

“Persoonlik grief dit my as mense in die verlede leef, want dit is belangrik om saam met die tye vorentoe te beweeg en aan te beweeg – ons móét oopkop wees en vernuwe. Tog is dit baie belangrik om te weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is.”

“Monumentaal” is uit die pen van nuweling Riaan Benade, gesoute musikant Gerhard Steyn en bekende vervaardiger Paulo Azevedo. Volgens Du Toit het die liedjie die Boere se geskiedenis vir hom opnuut vernuwe.

Ruhan du Toit. (Foto: Francois Olivier)

“Ons heel grootste monument in die Afrikaner-menswees is geloof. Ek het opnuut besef hoe groot die Here se genade was toe ʼn handjievol Boere destyds talle oorloë oorwin het. As jy die somme maak, maak dit nie sin as daar nie ʼn groter God is nie. Dit het my baie nader gebring aan hoe groot die Here is,” sê hy.

Met die verfilming van die musiekvideo het Ruhan besluit om tien van die mees merkwaardige Afrikaner-bakens te besoek. Op sy roete het hy die Voortrekkermonument, die Paul Kruger-monument op Kerkplein asook die Paul Kruger- Gereformeerde kerk in Pretoria besoek.

Hy het ook ’n draai gemaak by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Sarel Cilliers-gedenkteken in Kroonstad, die Slag van Bloedrivier-erfenisterrein in Dundee, Susanna Catharina (Maritz) Smit (bekend as die Kaalvoetvrou) se standbeeld in Bergville, die Paardekraal-monument in Krugersdorp en die Majuba Boereoorlog-monument in Volksrust.

“Dit was ’n oorweldigende reis, fisiek en emosioneel. Die naweek wat ons geskiet het, was dit snerpend koud, en daar is dele waar ek die Bybel vashou met kneukels wat skoon blou is. Dit was uitdagend, maar ek sal dit weer en weer doen,” sê Du Toit.

“Die laaste erfenisjuweel is die simbool van die familie-Bybel, wat vir my ons belangrikste en grootste monument is. Ons geloof was en moet steeds die beweegrede agter ons grootste monumentale oomblikke wees.”

Dr. Ehrhard Visser, wat onlangs sy Ph.D-navorsing in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria oor die onderwerp van die Afrikaner-subjekposisie in die nuwe Suid-Afrika voltooi het, beaam Du Toit se standpunt.

“Afrikaners bevind hulself vandag in ’n identiteitskrisis en het nodig om weer te kan steun op iets wat hulle trots maak om ’n Afrikaner te wees. ’n Fundamentele bousteen van enigiemand se identiteit is sy of haar opvatting van waarvandaan hy of sy kom. ’n Wanopvatting het stelselmatig onder Afrikaners ontstaan oor wie en wat hulle is en dit word versterk deur uitlatings in die media asook nasionale beleid.”

Visser stem saam met Du Toit dat die Afrikaner se monumentale oomblikke uitstekende inspirasie kan bied om weer ’n trots in die Afrikaner se identiteit te vestig.

“Die Afrikaner se geskiedenis is vol van helde en gebeure wat trots kan aanwakker. Dit vertel die verhaal van ’n groep mense wat nooit teruggestaan het vir enige bedreiging nie, wat die land se grond bewerk en doelgerig gebou het aan ’n toekoms – diep gewortel in hul geloof,” sê Visser.

Du Toit se lankverwagte solodebuutalbum, ook getiteld Monumentaal, sal later vandeesmaand beskikbaar wees. Dit is ’n stewige album met 15 snitte, waarvan bekende snitte deur Du Toit, soos Simon en Garfunkel se “Sound of Silence” en “Val op jou knieë”, ʼn nuwe baadjie kry.

Monumentaal het aanleiding gegee tot die Ons is Monumentaal-inisiatief, wat Du Toit pas in samewerking met Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur het om kulturele armoede te verlig.

“Helpende Hand besef dat fisieke armoede nie die enigste armoede is nie. Ons weet ook daar is geestelike en kulturele armoede. Daarom is dit vir ons ʼn voorreg om deel van die liedjie en inisiatief te wees,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“Die liedjie spreek kulturele armoede aan. Ons weet die fisieke armoede verniel mense tans. Ons weet ons is nog nie naby daaraan om oor die hond se stert van die nuwe koronavirus en die trefslag daarvan te wees nie.

“ʼn Liedjie soos ‘Monumentaal’ herinner ons watter tye ons al deurgemaak het en wat die Afrikaner kan verrig. Monumente wys ons om nie te vrees nie, maar om vorentoe te kyk en met hoop en geloof die toekoms tegemoet te stap.”

Saam met dié inisiatief wil Du Toit mense verder aanmoedig om die monumentale oomblikke van hul lewe te begin vier.

“Ek nooi mense uit om ’n foto van ’n monumentale oomblik in jou lewe te kies, en dit jou Facebook-profielfoto te maak. Gebruik die Monumentaal-raampie bo-op die profielfoto om so jou trots ten toon te stel en die mense om jou te laat dink oor hulle eie trots,” vertel hy.

Die Facebook-raam kan hier afgelaai word. Die liedjie kan hier afgelaai word.

Kyk hier na die musiekvideo, verfilm deur Christian Wolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michele ·

Ek het hoendervleis!! Dit is verskriklik mooi! Het skoon n knop in my keel en die trane vloei!! WOW!!!

Alet ·

Ek is ‘n trotse Afrikaner…. Dankie Ruan jy het dit net weereens aan my bewys dat ek trotser as trots kan wees!!

Pieter ·

Beslis n lied die. My punt, Steve sou goed saam jou in die Video pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.