Musiekvideo: Martin Bester durf om ‘anders’ te wees

Met Martin Bester se splinternuwe enkelsnit “Anders” laat val hy die kollig op uniekheid en sê hy met dié liedjie dat mense mekaar moet aanvaar.

Die musiekvideo vir “Anders” is vandag (Donderdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Met elke liedjie wat ek uitreik probeer ek om so ʼn bietjie die grense te verskuif en iets anders as die gewone te doen,” sê Bester.

Met ’n onderliggende boodskap aan boelies vertel Bester dat hyself ook nie soos enigiemand anders klink nie – en dat dít juis is hoe hy daarvan hou.

Hy het “Anders” saam met Ewald Janse van Rensburg, Rouxan Cloete en Rudolph Willemse geskryf. “Ek is mal daaroor om met mense te werk wat my inspireer om iets anders te doen en sodoende my eie verwysingsraamwerk te verbreed.”

Martin Bester. (Foto: Facebook)

Hy skerts dat diegene wat nié by “Anders” gaan aanklank vind nie, dalk nie anders genoeg is nie. “Ek wil hê my musiek moet so anders wees soos wat ons as mense is, en ek glo ons het met hierdie snit daarin geslaag.”

Bester het as radio-omroeper bekendheid verwerf en het die Afrikaanse musiekmark as sanger betree met sy debuutsolo, Vir die eerste keer, waarna die album Vir die liefde uitgereik is. Sy enkelsnitte “Konings” en “Staan op” het hierop gevolg.

Bester is ewe bekend in die Engelse musiekmark as voorsanger van die groep Kinky Robot, met die treffer “Hobie Beach”. Bester het dié liedjie geskryf oor die strand waar hy grootgeword het in Port Elizabeth.

Die musiekvideo vir “Anders” is deur die produksiemaatskappye Spacial en Stage Alive Production House behartig.

“Anders” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Patch ·

Ek hou baie van Martin Bester en sy ontbytprogram op Jakaranda FM, maar ek dink hy moet hom eerder by omroep as sing hou. Nie aanhanger van sy musiek. Martin verder is jy tops. ☺

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.