Musiekvideo: Martin Bester ‘sentimenteel’ in Stellenbosch

Die musiekvideo vir ‘Lilly’ is op verskillende plekke in die Kaap geskiet. (Foto: Verskaf)

In Martin Bester se splinternuwe enkelsnit “Lilly” sing hy oor ʼn paartjie wat in Stellenbosch in die Wes-Kaap die liefde vier en herinneringe bou wat later weer ondersoek en herleef word.

“Dit is ʼn sentimentele liedjie,” sê Martin Bester, ook omroeper van JacarandaFM, oor dié nuwe snit uit sy eie pen. Pierre Rossouw, bekende liedjieskrywer, het die musiek vir Bester se lirieke geskryf.

“Pierre het ongelooflik goed gedoen met die musiek. Dit is die eerste keer wat ek en hy saam skryf. Hy is ʼn gesoute skrywer en dit was lekker om saam met hom te werk. Dit het baie vinnig gebeur en dit het vir hom so maklik gekom. Ek is baie opgewonde vir mense om die liedjie te hoor.”

Die musiekvideo, wat vandag uitgereik is, is in Stellenbosch en dele van Kaapstad geskiet deur Eric T Graham van ETG Media, met Johan C Venter van Coleske Artists as vervaardiger.

“Ons het ʼn naweek lank in Stellenbosch en op ikoniese plekke in Kaapstad gespeel, baie rondgery en verskillende skote gekry om die herinneringe en nostalgiese gevoel vas te vang,” sê Bester oor die konsep van die video.

“Dit begin waar ek op ʼn lughawe is om die plekke te besoek waar ek en Lilly eens was. Dit vertel die storie hoe ek ons treë terugspoor. Die video het ʼn melancholiese gevoel, net soos die melodie van die liedjie.

“Ek is ongelooflik trots op die video. Dit vang die gevoel vas wat ek wou hê en beeld presies uit wat ek in my kop gehad het. Ek kon nie saam met ʼn beter span gewerk het nie.”

“Lilly” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Lilly”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.