Musiekvideo: ‘Moeilike tye’ inspireer Ashton Wheeler se digkuns

Ashton Wheeler, die nuweling- Afrikaanse sanger en liedjieskrywer met sy rasperstem en lirieke wat herinner aan digkuns, glo jy kan berge versit as jy in jouself glo. Dit is ook die boodskap wat hy met sy musiek wil oordra.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Poetry”, getuig ook hiervan. Die musiekvideo vir die liedjie is pas bekend gestel en is vandag (Vrydag) eerste op Maroela Media te sien.

“Ek is ʼn doodgewone mens met ʼn droom en ʼn liefde vir musiek. My stem kom van Bo en ek voel ek is geseënd elke dag. Ek is dankbaar vir die pad wat ek moes stap om vandag hier te kan wees,” sê Ashton.

Vir hom is dit belangrik om altyd eerlik met jouself te wees, en dit is wat hy wil hê mense moet hoor in sy musiek. Volgens die sanger is “Poetry” vir hom ʼn besonder diep liedjie wat ʼn verhaal vertel waarby vele luisteraars aanklank sal vind.

“Ek self was al op donker plekke in my lewe en ʼn mens is geneig om te vinnig tou op te gooi en net saam met die samelewing in ʼn rivier af te dryf.”

Dee Graaff Produksies vervaardig sy musiek met Ruan Graaff as hoofvervaardiger en Deon Dee as medevervaardiger. In die musiekvideo kan Ashton se rou emosies aangevoel word.

Mila Guy, die bekende Hotel– en 7de Laan-aktrise, is een van die bekende gesigte wat in die musiekvideo te sien is.

“As ek een persoon kan aanraak en hul lewe positief verander deur my musiek sal ek my doel bereik het. Die uitdagende tye in my lewe het my geleer om te vertrou op die Here. Dit het my beslis geleer van geduld en nederigheid.

“As ek nie deur moeilike tye gegaan het nie, sou ek nie die inspirasie gehad het om musiek te kon skep nie. Dan sou ek mos nooit die geleentheid waardeer het nie.”

“Poetry” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.