Musiekvideo: ‘ʼn Droom is nie bedoel vir die donker nie’

Gerduan Kemp (Foto: Verskaf)

“ʼn Droom is nie bedoel vir die donker nie.”

Só sing die 23-jarige Bloemfonteiner Gerduan Kemp nadat hy amper sy drome deur sy vingers laat glip het toe hy ʼn ander rigting as musiek ingeslaan het. Hy het wel sy pad terug na sy musiekdroom gevind en nou wil ander inspireer om dieselfde te doen met sy derde enkelsnit, “Dagbreekdrome”.

Kemp vertel dat hy van kleins af al droom om te sing vir ʼn lewe en om in die musiekbedryf te werk.

“Ek het van kleins af vir my ma-hulle konsert gehou by die huis en vir hulle gesing. Maar ek het nooit gedink dat ek eendag werklik in die musiekbedryf sal kan werk nie.”

Hy het in gr. 9 begin stemopleiding kry, maar na matriek het hy op ʼn ander studierigting besluit omdat hy in homself en aan sy drome begin twyfel het. Nadat hy sy graad voltooi het, het hy besluit om tóg sy musiekdroom nog ʼn kans te gee.

Hy het in 2019 sy eerste liedjie, “Vergewe my as ek”, geskryf en opgeneem en vandag stel hy eksklusief op Maroela Media sy derde enkelsnit en musiekvideo bekend.

Gerduan Kemp het ná sy studies besluit om tóg sy musiekdroom te volg (Foto: Versakf)

“‘Dagbreekdrome’ is geïnspireer deur wat ek ervaar het in my lewe. Ek het van kleins af gedroom daaroor om eendag te sing vir ʼn lewe, maar ek het op ʼn punt gekom waar ek daardie droom begin onderdruk het as gevolg van die opinies van ander, en om myself te vergelyk met wat hulle droom.

“Ek het besef dat daar so baie mense is wat deur dieselfde gaan: ʼn Mens droom so groot in jou lewe, en dan deur jouself te vergelyk met ander, doen jy later iets heeltemal anders. Ek het toe ‘Dagbreekdrome’ geskryf om mense te motiveer om hul drome te volg en dan te bereik,” sê hy.

Kemp het die liedjie geskryf saam met Petrus van Wyk, ook bekend as Peter Cleff.

“Ek is goed met woorde en lirieke en Petrus is goed met musiek. Ons skryf die liedjies akoesties en voeg dan die rock- en pop-elemente by, daarom is daar ʼn mooi middellyn. Ek probeer altyd met my musiek ʼn klank vind waaraan die oor nie regtig gewoond is nie,” sê Kemp.

Kemp en Van Wyk het hierdie liedjie geskryf tydens streng vlakke van inperking en het daarom daagliks ʼn aanlyn video-oproepplatform gebruik om die liedjie te voltooi.

Gerduan Kemp (Foto: Verskaf)

Kemp het ook die musiekvideo van “Dagbreekdrome” tydens dié afsonderingstyd verfilm en wou uitbeeld hoe die musiekbedryf tydens inperking verander.

“Die musiekvideo het twee segmente: Die een wys die opneem-en-skryfproses van die liedjie in die ateljee en die ander helfte wys hoe ons eintlik begin stagneer tydens inperking en hoe dit begin voel asof elke dag dieselfde as gister is.

“ʼn Mens voel partykeer dieselfde met jou drome – dat jy dit net nie kan bereik nie en dat jy dan begin stagneer.”

Kemp hoop dat sy musiek nou vir iemand anders soveel kan beteken soos wat ander mense se musiek al vir hom beteken het.

“Musiek vir my ʼn mooi manier om stories te vertel en ek hou dit altyd in gedagte wanneer ek skryf – dat ek my stories op so ʼn manier vir ander mense kan vertel. Ek weet hoe baie musiek vir my beteken, en ek wil graag met my musiek ander mense aanraak soos wat musiek my aanraak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.