Musiekvideo: ʼn Hegte vriendskapsband vir dié twee musikante

Christiaan Baartman en Mack Rapapali.

Die bebaarde sanger Christiaan Baartman en sy musikantsvriend, Mack Rapapali, het onlangs hulle eerste enkelsnit getiteld “’n Vriend soos jy” uitgereik.

Die musiekvideo vir dié liedjie is ook pas bekend gestel en is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

EventCast Virtual Studios in Centurion het die video vervaardig. Stephan Pieterse en sy assistent, Sellina Malindi, was aan die stuur van sake. Mario Schutze het die tromme gespeel.

Die video is ook gedeeltelik by die Ketelkraal Distillery in Centurion geskiet en die trekker is deur Auto Investment geborg.

“Ons het geen benul gehad hoe die trekker werk nie. Ek het nogal gedink Christiaan sou weet, maar helaas. Kan jy glo, twee Blou Bul-ondersteuners en nie een weet hoe die trekker werk nie,” skerts Mack.

Mack en Stephan het saam aan die konsep van die video gewerk. Die video beeld ʼn virtuele konsert weens die Covid-19-pandemie uit, met terugflitse na wat hulle as twee vriende saam sou doen as daar nie ʼn inperking was nie, byvoorbeeld by ʼn kroeg sit en kuier of saam sing, of dalk braai op ʼn plaas en oor die boerdery gesels.

“Ons almal het daardie een vriend in jou lewe wat jou van binne en buite ken, al jou sterk- en swakpunte. Dis die eerste persoon wat jy bel wanneer jy in die moeilikheid is en die eerste persoon wat jy bel om goeie nuus mee te deel,” sê Christiaan oor die tema van die liedjie.

“’n Vriend soos jy” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “’n Vriend soos jy”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.