Musiekvideo: ʼn Liefdesduet vir Valentynsdag

Sky Ocean en Reynardt Hugo stel “Laat die liefde leef” bekend (Foto: Verskaf)

Die donkerkop sangeres Sky Ocean verwelkom die maand van liefde in haar jongste enkelsnit in ʼn liefdesduet saam met Reynardt Hugo, ook bekend as dr. Tertius Jonker van Binnelanders.

In hierdie popsnit met ’n country-aanslag vertel hulle die sensitiewe maar tog onskuldige liefdesverhaal van ’n jong paartjie wat die pad byster geraak het.

“‘Laat die liefde leef’ is ’n liefdeslied met kontrasterende lirieke. Die lig kan nie ’n plek verhelder sonder die donker nie. Ons moet, veral in hierdie tyd, onthou om mekaar lief te hê. Selfs al gaan ’n mens deur moeilike tye. Môre is aan niemand beloof nie, so hou vas aan liefde en laat die liefde leef,” sê Sky.

Die musiekvideo vir “Laat die liefde leef” word vandag (Vrydag) eerste op Maroela Media bekendgestel. Sky vertel hulle wou ʼn sensitiewe benadering tot ʼn lewensverhaal met die musiekvideo uitbeeld.

“ʼn Mens moet die geliefdes en liefde waardeer wat jy het, want hulle gaan nie vir altyd daar wees nie. Soms moet ons leer om weer lief te hê soos ’n kind, op die bed te spring, te lag, te gesels en tyd te maak vir mekaar.”

Sky sê dit was vir haar ʼn droom wat waar geword het om hierdie duet saam met ʼn gesoute kunstenaar soos Reynardt te sing.

“Dit was natuurlik aan die begin ’n bietjie intimiderend, maar soos wat ons dieper in die projek in gedelf het, het dit ’n leerskool geword. Ek het vreeslik baie geleer by hom en ek sal daardie kennis vir ewig saam met my dra.”

Sky hoop dat mense ʼn gevoel van warmte, kalmte, omgee en deernis in hulle harte sal voel wanneer hulle na hierdie lied luister en dat dit sal lei tot ʼn liefdevolle en positiewe 2021.

“Laat die liefde leef” is op alle digitale platforms beskikbaar. Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.