Byna drie dekades nadat die sangeres Laurika Rauch se gewilde treffer “Stille Waters” vir die eerste keer Afrikaanse musiekliefhebbers se harte aangegryp het, is ʼn splinternuwe musiekvideo vir dié liedjie uitgereik.
Die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.
“Stille Waters” het in 1992 gedebuteer op Rauch se album Die Gang, maar ʼn amptelike musiekvideo is nooit vir die liedjie vervaardig nie. Rauch het egter onlangs die Nederlandse akteur Laurens de Groot genader om vir haar ʼn musiekvideo van dié liedjie te maak.
De Groot staan ook bekend as “Die man met die koffer” wat al sy verskyning in verskeie teaterstukke, straatteateropvoerings, televisieprogramme en rolprente gemaak het.
“Ek het die idee vir die video van Justin Bieber se lieflike video vir sy liedjie ‘Love Yourself’ gekry. Creedence Clearwater Revival het ook hul ou treffer ‘Have You Ever Seen The Rain’ gebruik as die klankbaan van ʼn verbeeldingryke kortfilm.
“Ek het geweet dat ‘Stille Waters’ hom uitstekend sou leen tot dieselfde konsep. Dit is die liedjie wat waarskynlik die meeste van al my liedjies gestroom of afgelaai word,” sê sy.
“Stille Waters” is al meer as 100 000 keer op Apple Music gestroom en Rauch se volledige katalogus is al bykans 3 miljoen keer geluister. Mense in Suid-Afrika, maar ook in lande soos Australië, Brittanje, die VSA en Kanada, stroom haar musiek op die groot digitale platforms.
“Stille Waters” is ʼn eenvoudige, universele storie wat iewers op ʼn strand afspeel en dié verhaal word ook só in die nuwe musiekvideo uitgebeeld. Die man met die koffer word gesien waar hy op die strand stap om gereed te maak vir ’n piekniek saam met sy geliefde. Die kyker wag saam met hom op die geliefde wat nie opdaag nie – in ʼn hartroerende oomblik gooi die man ʼn klippie in die oseaan.
“Ek was sommer dadelik opgewonde oor die konsep toe Laurika my kontak. Sy is ʼn ikoon en dit is regtig ʼn eer om betrokke te wees by hierdie projek van een van haar grootste treffers,” sê De Groot.
“Stille Waters” is deur Chris Torr gekomponeer en oor die jare het verskeie sangers hul eie weergawes daarvan gesing en opgeneem. Dit is ook al vertolk as ʼn parodie, ballade, duet, en orkesnommer. Dit is ook verlede jaar deur die Nederlandse sanger Sjors van der Panne vertaal en opgeneem. Dié weergawe is op sy album Altijd Zo Gegaan ingesluit.
Die Gang is hier beskikbaar.
Kyk hier na die musiekvideo van “Stille Waters”:
Sy is soos goeie rooiwyn…hoe ouer sy raak hoe beter raak sy……. en ja dan is sy nog beeldskoon ook.
Dis so mooi en hartseer…