Musiekvideo: Nuwe duo Dagbreek herinner om in oomblik te leef

Tammy en Wade van Dagbreek. (Foto: Willem Botha)

In hul debuutenkelsnit, “Die lewe is te kort”, herinner die nuweling-sangduo, Dagbreek, luisteraars daaraan om in die oomblik te leef en nie toe te laat dat die verlede die toekoms bepaal nie.

“Al wat ons het, is vandag, so ons moet die lewe aangryp en voluit leef,” sê Tammy van der Merwe, wat saam met haar broer, Wade Bezuidenhout, dié duo vorm.

Die enkelsnit en musiekvideo, wat pas uitgereik is, het ʼn country- en pop-aanslag en dié broer en suster word bekendgestel met ʼn toneel van die sonsopkoms as verwysing na hul naam.

“Ons almal gaan deur moeilike tye en val soms terug in die lewe. Ons het in die kerk begin musiek maak en later uitgebrei om in kroeë te speel. Ons het gesien en ervaar hoe maklik dit vir die wêreld is om jou in te sluk,” vertel Wade, wat voorheen deel was van die top-48 van die derde seisoen van The Voice.

“Ons het hard probeer om in te pas in die internasionale popmusiekmark, maar daar was altyd iets kort. Toe ons onlangs in ons moedertaal begin skryf, het ons werklik ons stem gevind en dit het ons ook teruggebring na ons Christelike grondslag.”

Hulle hoop hul musiek skep ʼn gevoel van “jy is nie alleen nie” en dat hulle deur hul musiek mense sal aanmoedig om altyd terug te keer na hul beginsels toe. Dagbreek wil beklemtoon dat niemand die dag van môre belowe word nie.

“Ek glo talle mense sal aanklank vind by die liriek en boodskap van die liedjie, veral in ons lewensomstandighede tans. Daar is soveel onsekerheid en mense twyfel baie, maar ons moenie vergeet om op te hou lewe nie,” sê Tammy.

Sy en Wade is reeds die afgelope vyf jaar betrokke in die musiekbedryf. “Ons hou van musiek wat ʼn dieper betekenis het, interessante konsepte en metafore bevat en kreatiewe frases en verwante boodskappe insluit,” verduidelik Wade.

Albei is dit eens dat die voorreg om saam met die bekende vervaardiger Murray Lubbe te kon werk, ʼn hoogtepunt was. Lubbe het treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel vervaardig.

“Ons volgende twee enkelsnitte is ook reeds opgeneem en ons beplan om dit binnekort uit te reik.”

Dagbreek het ook onlangs in die topsewe van die Die GROOT Ontbyt- en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie geëindig met hul liedjie “Onbreekbaar”.

“Die lewe is te kort” sal van Vrydag op alle musiekstromingsdienste beskikbaar wees.

Dagbreek. (Foto: Willem Botha)

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.