Musiekvideo: Nuwe musiek uit Gian Groen se pen

Gian Groen. (Foto: Verskaf)

“Lonely troebadoer” is die jongste enkelsnit van die immergewilde musikant Gian Groen.

Dié liedjie spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo wat deur Rudolph de Wet van Vonk Musiek geskiet is.

Gian vertel hy het die liedjie geskryf tydens die pandemie toe hy siek met Covid-19 was. Alex Power, ʼn jarelange vriend en musiekvervaardiger, het saam met Gian die verwerking van die liedjie gedoen by sy ateljee, Farmyard Studio, op Gordonsbaai in die Wes-Kaap.

Alex speel ook baskitaar terwyl Guy Feldman en Gian die kitare bespeel en Simon Sloane die tromme slaan.

Jandré Spangenberg het die post-produksie gedoen in sy ateljee, Totius Hill Studio, in Welgemoed. Jandré het ook klawers gespeel en die agtergrondsang gedoen.

“Toe almal gedink het liedjieskrywers gaan baie meer produktief wees tydens die inperking weens die pandemie oor hulle tuis vasgevang is, was kunstenaars eerder besig om planne te beraam om kontantvloei te genereer omdat daar soveel konserte gekanselleer is,” verduidelik Gian oor die ontstaan van die liedjie.

“Die ooglopende ding was om konserte te stroom vir die mense daar buite en sodoende die bedryf aan die gang te hou. Dit was ʼn verskriklike eensame plek om te wees vir ʼn troebadoer. So sit ʼn mens in ’n klein klankdigte vertrekkie met net ʼn kitaar en ’n kamera terwyl duisende mense die geleentheid kry om in te skakel.

“Dit is byna asof jy in ʼn glaskas sit en musiek maak waar die wêreld kan inkyk, maar die kunstenaar sien niemand nie,” vertel Gian.

“Lonely troebadoer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Dit is wat ‘n kunstenaar onderskei van ‘n “entertainer”. ‘n Kunstenaar kom altyd met iets nuuts na vore. Niks van “bokkie sokkie…my baby” hier ter sprake nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.