Musiekvideo: Oud-SA’ner in buiteland sing in Afrikaans

Simoné Roets. (Foto: Foxline Productions)

“Dans in die donker” is die debuutenkelsnit van die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Simoné Roets.

Roets het die snit saam met Jattie de Beer van Artistry Productions geskryf. Dit is geïnspireer deur die besef dat moeilike tye onvermydelik is en dat ons meer moet fokus op hoe ons daardeur gaan kom as om te vra hoekom dit met ons gebeur.

“Pyn en mooi loop dikwels hand aan hand. Die lewe is nie altyd die een of die ander nie. Inteendeel, dit is soms ’n bietjie morsig en donker, maar ons kan vreugde en vrede vind te midde van die chaos,” verduidelik Roets die boodskap van die liedjie.

Sy woon al vir vier jaar in Brisbane, Australië, en is tans in Suid-Afrika om haar debuutalbum op te neem.

“Die boodskap van ‘Dans in die donker’ is eerlik, maar steeds opbouend en lekker om na te luister. Dit het ʼn unieke klank en bied ʼn vars benadering tot Afrikaanse musiek, wat ek glo by luisteraars sal aanklank vind.”

Die snit is die eerste vrystelling vanaf Roets se komende Afrikaanse vollengte album. “Ek en my man het ’n naby-vriend verloor in Desember 2019. Kort daarna is Australië onder ʼn inperking geplaas en ek het nie meer ’n verskoning gehad om nie te skryf nie,” vertel Roets.

“Ek het tyd gehad en vir die eerste keer gevoel dat ek iets het om te sê. Vir een of ander rede het die inspirasie my in Afrikaans getref. Daar in die verte het ek net weer besef hoe diepmooi ons taal is.”

Roets en De Beer werk al jare lank saam. “Ons het dikwels dieselfde idees oor dit wat vir ons mooi is en daarom is daar ʼn lekker sinergie tussen ons. Ruimte word altyd toegelaat vir in-die-oomblik-kreatiwiteit en ons tye saam in die ateljee is altyd vir my ʼn hoogtepunt.”

Die resultaat van hierdie goeie verhouding is dat luisteraars kan uitsien na ’n Afrikaanse album met baie detail en diep deurdagte lirieke wat harte raak, inspireer en uitdaag.

“Ek hoop dat luisteraars met my liedjies sal kan vereenselwig. Vir my gaan musiek nie oor sukses nie, maar eerder oor die voorreg om iets uit niks te skep en met ander te deel.

Simoné Roets. (Foto: Samuel Vanlal Din Thara)

“Ek wil graag ook ander mense aanmoedig om te doen waaroor hulle passievol is en om hulself nooit te vergelyk met ander nie. Dit gesê, bly dit ʼn uitdaging om nie te veel vas te haak by hoekom jy jou musiek daar buite sit nie, maar eerder die proses te geniet.”

Roets het in Nelspruit grootgeword en in sport uitgeblink as kind. Toe sy begin regte studeer het, was haar vriendekring ʼn klomp kreatiewe mense wat haar gehelp het om ’n ander deel van haarself te ontdek. Net daar het haar passie vir musiek vlam gevat en het sy besluit om haar eerste kitaar te koop.

In 2016 het sy ’n Engelse kortspeelalbum getiteld Take Over uitgereik. “My dear” en “Create in me” is geskryf toe sy in 2018 saam met ander musikante aan ’n projek gewerk het. Sy is ook betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane.

“Dans in die donker” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.