Musiekvideo: Perfekte droom word waar vir Shoneill

Shoneill. (Foto: Willem Botha)

Die donkerkop sangeres Shoneill se splinternuwe enkelsnit, “Wakker raak”, beskryf presies hoe sy tans oor die lewe voel – dit is ʼn droom waaruit sy nie wil wakker word nie.

Dié enkelsnit is pas vrygestel en almal wat die goeie tye wil koester, sal hierby aanklank vind. Die liedjie spog ook nou met ʼn splinternuwe enkelsnit, wat vandag (Vrydag) eerste op Maroela Media te sien is.

“Wakker raak” is gepen deur Johan Oberholzer, die bekroonde liedjieskrywer, en Shoneill het vertel dat dit juis ook háár storie vertel. Murray Lubbe het die liedjie vervaardig.

Shoneill was sowat drie jaar gelede baie aktief by die musiekbedryf betrokke en het uiters goed gevaar. Sy is intussen getroud en het ʼn pienkvoet ryker geword, en het besluit om vir eers op ma- en vrouwees te fokus.

Met “Wakker raak” kondig sy haar terugkeer na die musiekbedryf aan en beplan om volgende jaar ʼn hele rits enkelsnitte uit te reik.

“Ek het vir Johan verduidelik dat ek op ’n stadium in my lewe is waar ek smoorverlief is op my droomman en ek het nooit gedink dat ek so gelukkig getroud kan wees nie. Johan het met daardie inspirasie ‘Wakker raak’ geskryf,” vertel Shoneill.

“Ek het dadelik by die liedjie aanklank gevind as gevolg van die feit dat die lirieke gepas is vir my lewenspad en waar ek tans in my huwelik is.”

Shoneill vertel sy glo in die liefde en dat daar nog baie mense is wat steeds gelukkig is.

“Ek glo ‘Wakker raak’ is ’n liedjie wat mense aan hul lewensmaats kan opdra. Op die ou einde is die liefde al wat saak maak.”

Volgens haar hoop sy dat elke luisteraar nostalgies sal raak oor waar hulle hulself ook bevind.

“Ek wil mense aanraak deur my musiek. Soos wat gebeur het toe ’n vrou een aand vir my kom vertel het dat een van my liedjies haar laat besluit het om nie van haar man te skei nie,” vertel sy.

Musiek is reeds van ’n jong ouderdom af een van Shoneill se groot liefdes en haar ma en ouma het gereeld gesing terwyl haar oupa mondfluitjie en kitaar gespeel het.

Sy is reeds 12 jaar in die musiekbedryf doenig en het al verskeie enkelsnitte en musiekvideo’s, onder andere “Hart van goud”, “Ek het jou lief” en “Vas dans”, vrygestel.

“Wakker raak” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.