Musiekvideo: Pierre Nel glo daar is nog storieboekliefde

Dr. Pierre Nel sê hy beplan ‘n lewe vol kreatiwiteit met sy musiek terwyl hy ook spesialiseer in narkose of oogheelkunde. (Foto: Verskaf.)

Pierre Nel wil met die musiekvideo van sy jongste enkelsnit, “Mis jou”, vir mense sê dit is net menslik om soms hartseer en eensaam te voel.

Die liedjie is op Valentynsdag vanjaar, saam met die musiekvideo, uitgereik en Maroela Media se luisteraars kry vandag die kans om die eerste kykie na die video te kry.

“Ek wou met die snit se eerlike woorde en ligte wysie vir mense ʼn boodskap van hoop en liefde oordra. Met ‘Mis jou’ het ek probeer om die emosie so eerlik en rou as wat ek kon na vore te bring en ek glo baie luisteraars sal hulle daarmee kan vereenselwig,” het Nel gesê.

“Mis jou” is ʼn pop-ballade wat handel oor ʼn kêrel wie se hart bars van verlange ná sy verhouding op die rotse geloop het. Nel meen die karakter se graad van verlange is bevestiging dat storieboekliefde tog nog bestaan.

Pierre Nel het in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor sy jongste musiekvideo. (Foto: Maroela Media)

Die liedjie kom uit Nel se eie pen en die veelsydige Hugo Ludik het met die verwerking daarvan gehelp.

“Ek het self al die einde van so ʼn verhouding verwerk en die liedjie is juis geskep as deel van ʼn genesingsproses vir my eie rou emosies,” verduidelik Nel.

In die musiekvideo van “Mis jou” kry sy woorde lewe as die hoofkarakter ʼn eksperimentele prosedure ondergaan om die herinneringe, verlange en pyn te verwyder ná die verlies van sy liefde.

“Die musiekvideo raak ʼn diep tema van hartseer aan en die resultaat is presies wat ek wou bereik.

“Ek wou op ʼn manier ook vir mense laat weet: Selfs al voel die situasie hoe swaar, die wete dat daar nog mense is wat ook al iets soortgelyks ervaar het, laat ʼn mens darem voel jy is nie heeltemal alleen nie. Jy word verstaan, en dit maak die meeste situasies darem ook ʼn bietjie meer draaglik.”

Nel, wat ná 2019 ʼn gekwalifiseerde mediese dokter is, se eerste enkelsnit, “Al waarvoor ek leef”, is reeds in 2017 uitgereik.

Foto: Verskaf.

“Ek beplan ʼn lewe vol kreatiwiteit en opwinding met my musiek, maar ek wil ook spesialiseer in narkose of oogheelkunde,” het Nel van sy toekomsplanne gedeel.

  • Volg Pierre Nel op Facebook, Instagram en Twitter vir meer nuus oor sy musiek en optredes.
  • Pierre Nel het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak en met Esté Meyer Jansen gesels oor sy jongste musiekvideo. Nel het ook verklap vir watter mediese prosedure hý die skrikkerigste is. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

Kyk hier na “Mis jou” se musiekvideo eerste net op Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.