Musiekvideo: Pieter Strydom se liedjie vir sy ‘meisiekind’

Pieter Strydom en sy dogtertjie, Skylin, op die stel van sy musiekvideo vir ‘Ek is daar’. (Foto: Verskaf)

Ná die geboorte van sy nege maande oue dogtertjie Skylin, het die sanger Pieter Strydom gevoel hy wil ʼn liedjie opneem wat aan haar opgedra is.

Strydom het die musikant en liedjieskrywer Riaan Benadé genader om ʼn liedjie vir hom te skryf, en die treffersnit “Ek is daar” is uit hierdie samewerkingsooreenkoms gebore.

“Enige persoon kan daarvan getuig dat jou hele wêreld verander wanneer jy ʼn ouer word. Jou hart ervaar ʼn ander tipe liefde – ʼn liefde wat jou hart wil laat bars,” vertel Strydom.

“Jou oë gaan oop en die wêreld kry ʼn nuwe kleur. Dit is ʼn liefde wat jy nie vir iemand kan beskryf nie. Ek het my hart met Riaan gedeel en hom vertel wat ek in gedagte het. Ek was baie opgewonde toe hy instem om die liedjie vir my te skryf.

“Hy het die woorde so mooi neergepen en my hart netso op papier neergelê.”

“Ek is daar” is vervaardig deur Murray Lubbe van Hit Factory Records, een van die topvervaardigers in Suid-Afrika.

“Ek wil die heel beste vir my dogtertjie gee en is so dankbaar dat twee van die heel bestes in die musiekbedryf by die liedjie betrokke was.”

Pieter Strydom en sy dogtertjie, Skylin, op die stel van sy musiekvideo vir ‘Ek is daar’. (Foto: Verskaf)

“Ek is daar” se musiekvideo is geskiet op die Pecanwood-gholflandgoed by Hartbeespoortdam. Abel Knobel het die regie behartig.

“Die liedjie is ʼn belofte aan my meisiekind dat ek altyd daar vir haar sal wees. Net om haar in my lewe te hê is ʼn voorreg en ek sal my lewe vir haar gee en haar beskerm, maak nie saak wat gebeur nie.”

“Ek is daar” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na ʼn onderhoud met Pieter Strydom in die Maroela Media-ateljee.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ek is daar”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.