Musiekvideo: Reborne maak musiek met diepte

v.l.n.r. Gerard van der Merwe, Werner van der Merwe, Chinel van der Merwe, Benjamin Slabbert (Foto; verskaf)

Januarie vanjaar het die musiekgroep Reborne ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo bekendgestel.

“Die Emosie” is deur Chinel van der Merwe, hoofsanger van die groep, geskryf. Die lied se inspirasie was die oorweldigende emosie wat elkeen op sy of haar eie manier verwerk.

“As jy na die liedjie luister moet dit jou laat terugdink aan jou emosie en hoe jy dit ervaar. Elke woord in die liedjie is eg,” het Van der Merwe aan Maroela Media verduidelik.

“Aan die begin sing ek, ‘my emosies speel op en af met my, en môre is dit alles verby’. Die res van die groep spot my altyd en sê dat ek die liedjie vir myself geskryf het. Partykeer oorweldig sekere emosies my – dis te veel om te verwerk op daardie spesifieke oomblik. Ek weet nie altyd hoe om daardie struikelblok te oorkom nie. Maar dis soos die Here sê; geluk kom in die oggend. Môre, as ek wakker word, dan is dinge rustiger, op een of ander manier kan ek dit dán verwerk.”

Die groep wou die verskillende maniere waarop hulle emosies verwerk, weerspieël in dié enkelsnit se musiekvideo.

“Ons wou die musiekvideo ook ʼn bietjie anders laat skiet. Daar is nie een toneel waar die hele groep saam is nie. Ons wou wys dat elkeen verskillende emosies op verskillende maniere hanteer.”

Die groep is trots op die unieke musiek wat hulle bied. “Ons wil anders wees, ʼn bietjie meer diepte inbring.”

Reborne het in 2016 in die Vaaldriehoek ontstaan en het Kupido se pyltjie sommer van die begin af betrek. Chinel en Gerard van der Merwe het deur middel van die groep verlief geraak en is vandag man en vrou.

Gerard se ouer boetie, Werner, is ook deel van die groep. Dié twee het grootgeword in ’n huis waar musiek aan die orde van die dag was, aangesien hulle ma ook betrokke is in die musiekbedryf. Tydens die gesprek het hulle skertsend na hulself as die “Drie Van der Merwes” verwys. Benjamin Slabbert het later deel geword van die groep.

Kort voordat die inperking aangekondig is, het Chinel en Gerard die besluit geneem om albei hul werk te bedank en hul eie potjie, deur ’n musiekskool, te begin krap. Dit het egter tot groot bekommernis gelei aangesien die leerders wat deel was van die musiekskool as gevolg van die pandemie een vir een kop uit begin trek het.

“Die Here het ons deur daardie tyd gedra, ons sou dit nie sonder Hom kon doen nie,” getuig Chinel.

Die musiekskool het eers gespog met 45 leerders, toe met ’n skamele agt en is vandag verantwoordelik vir 1 800 leerders.

Dié passievolle jong mense verduidelik dat hulle nie noodwendig ’n Christelike musiekgroep is nie, maar dat hulle Christene in ’n musiekgroep is.

“Ons is glad nie skaam om oor die Here te praat nie – alles wat ons is en het, is as gevolg van Hom. Ons gee die Here alle eer.”

Hulle het ook, as groep, die besluit gemaak om nie ’n druppel alkohol te drink nie. “Ons wil dit geniet wanneer ons optree, bewus wees daarvan en dit die volgende dag onthou.” Hulle het egter skertsend opgemerk dat mense dit nie altyd verstaan nie. “Mense dra gereeld vir ons alkohol aan. Ons wys dit dan maar net van die hand en gaan kry water.”

Kyk hier na “Die Emosie” se musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.