Musiekvideo: Red Sheep wys hulle diep kant

Estian Maree en Richard ‘Max’ Marx van Red Sheep.

Red Sheep, die musiekduo oorspronklik van Stellenbosch, is ʼn studentegroep wat mense al meer laat regop sit.

Hulle is vol van pret en plesier, maar volgens die sanger en skrywer Estian Maree (of Dorper soos hy beter bekend is) en sy mede-groeplid Richard “Max” Koenig, het hulle ook ʼn volwasse, dieper kant wat hulle op hul unieke manier met hul gehoor deel.

Hulle jongste enkelsnit, “Ek sien die see vir die eerste keer”, is ʼn snit met vleis om die been en het ʼn boodskap wat vir almal ʼn ander betekenis sal hê.

Die musiekvideo vir dié snit is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Op die einde van die dag sê ek die luisteraar is die skrywer van die lied: Wat ook al die liedjie vir jou beteken, is waaroor die liedjie gaan,” verduidelik Maree, wat die liedjie geskryf het.

“Maar vir my gaan dié snit oor wanneer jy vir iemand kyk vir wie jy lief is en jy daardie gevoel van euforie kry – asof jy vir die eerste keer die see sien.”

Om die lied nog meer universeel te verpak beeld die musiekvideo verskeie tonele uit waar ʼn sintuig soos sig, reuk, klank en smaak ʼn katalisator is vir die soort gevoel wat Maree beskryf.

Eric T Graham het die video geskiet.

Red Sheep se debuutalbum, Kaskenades, is einde verlede jaar uitgereik, waarna die eerste enkelsnit, “Rondomtalie”, onmiddellik die Apple Music-trefferlys betree het.

Weens die inperking kon die groep nie ʼn musiekvideo vir hierdie snit skiet nie, maar gedurende die verfilming van “Ek sien die see vir die eerste keer” het die produksiespan, onder leiding van Johan C Venter, twee musiekvideo’s op een dag geskiet.

“Ek sien die see vir die eerste keer” en Kaskenades is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ek sien die see vir die eerste keer”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois Le Cochon ·

Gaaaap!! “Old Skool” hierso. Ek hou maar by my ou gunstelinge. Led Zepplin, Pink Floyd, Uriah Heep en Deep Purple.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.