Musiekvideo: Renaldo Alberts wys prettige kant met debuutvideo

Renaldo Alberts. (Foto: Verskaf)

Die veelsydige Renaldo Alberts is nie net ʼn BCom-student aan die Universiteit van Pretoria en ʼn kranige sportman nie, maar ook besig om sy pad in die Afrikaanse musiekbedryf uit te kerf.

Sy debuutenkelsnit, “Hoe hoog”, is pas uitgereik en die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Saterdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Alberts vertel die liedjie gaan oor hoe ʼn mens bereid moet wees om enigiets vir jou geliefde te doen.

“As die persoon sê jy moet spring, moet jy vra ‘hoe hoog’. ʼn Mens kan altyd net hoop dat ʼn verhouding na albei kante toe sal uitwerk. Om dit te laat gebeur, moet jy bereid wees om uit jou pad te gaan vir die een wat goed is vir jou,” sê Alberts.

“Hoe hoog” is ʼn opgewekte popliedjie en dit is geskryf deur die musikant Shoneill. “Wanneer mense na my musiek luister, moet hulle geïnspireer voel om pret te hê en met hoop en liefde gevul wees.”

Die jong sanger, wat ook op 13-jarige ouderdom as Mnr. Junior Suid-Afrika gekroon is, droom al sy lewe lank van ʼn sangloopbaan en sê hy leef uiteindelik sy droom uit.

Hy sê hy het reeds in sy kort tyd in die Afrikaanse musiekbedryf waardevolle lesse geleer. “Almal wil sing, maar ek glo tog daar is plek vir almal. As jy hard werk en bestendig bly, sal jy jou eie loopbaan in die musiekbedryf kan uitkerf.”

Renaldo Alberts. (Foto: Facebook)

Die prettige musiekvideo is deur Luther van der Watt van Yellow Lemon Media geskiet. Melanie Janse van Rensburg vertolk die rol van Alberts se geliefde en ʼn pragtige poolhond (husky) speel ook ʼn belangrike rol in die video.

“Die video vertel die storie van hoe ek sien watse toertjies Melanie met die hond doen en uiteindelik begin ek ook die toertjies namaak. Dit beeld die boodskap van die liedjie uit dat jy uit jou pad moet gaan vir die een vir wie jy lief is,” sê hy.

Die poolhond behoort aan die K9 Performance Centre. “Dit was groot pret om die video te skiet. Ek het elke liewe oomblik saam met ongelooflike mense geniet. Dit was nie een oomblik vervelig nie. Ek is baie geëerd om so iets te kon aanpak saam met mense met wie ek ʼn pad kan stap.”

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.