Musiekvideo: Reynardt Hugo stel “Diep binne my” bekend

Ná die sukses van sy debuut solo-enkelsnit “Die rivier” is Reynardt Hugo se tweede enkelsnit, “Diep binne my”, pas uitgereik.

Die musiekvideo is vandag (Maandag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die musiekvideo is in Northcliff in Johannesburg geskiet. Hugo en die Kaapse aktrise Shana Mans is in die video te sien. Johannes Schoutsen is die regisseur.

Volgens die 34-jarige Hugo, wat ook bekend is as akteur en tans te sien is as dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders, was dit ʼn groot voorvereiste dat sy mede-aktrise baie goeie akteursvaardighede moes hê.

“Ek wou die storie vertel met die video. Ek wou ʼn vertoning lewer. Die video het ongelooflik mooi uitgekom.”

Volgens Hugo is “Diep binne my” ʼn liefdeslied wat losweg geskoei is op die Bybelse beeld van die pottebakker. Hy vertel sy verloofde, An-Maré Roothman, was besig om roosmarynplantjies en laventel nat te lei in hulle tuin in Johannesburg toe die lirieke vir die lied by hom opgekom het.

“Ek het gedink aan die woorde ‘laventel en roosmaryn, reuke wat vir jou baklei’ en gedink dit is so mooi as iemand vir jou kan baklei en kan sê hulle is lief vir jou en wil dinge maak werk, al is dit hoe moeilik.”

Reynardt en sy verloofde, An-Maré Roothman, tydens die Fiësta-toekennings in 2018 . (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy vertel dat die lied vir hom baie beteken aangesien hy homself in soortgelyke omstandighede bevind het. “Ek moes besluit of ek my lewe wil omdraai, vergifnis vra en aan myself wil werk om by ʼn plek van waarheid uit te kom. Dit is nie altyd maklik nie, dit is ʼn moeilike pad om te stap, maar definitief die moeite werd. Ek dink oud en jonk sal by die liedjie aanklank vind, omdat dit ʼn verskillende betekenis vir elkeen kan inhou.”

Hugo het ook tydens die inperking ʼn boek getiteld Soldaat, geskryf. Die ondertoon van die boek is hoe drankmisbruik en egskeiding jou keuses in die lewe beïnvloed, sê hy.

“Albei my ouers en my stiefma was in die weermag. Ek vertel my lewensverhaal en hoe die egskeiding my en my ouers geraak het. Ek vertel oor hoe die familie-dinamika verander wanneer jy stiefouers bykry, en hoe ek tot ʼn besluit moes kom om my lewe om te draai, want ek sou alles en almal verloor het.

“My ervaring het my net op ʼn punt gebring waar ek óf kon aanhou bekommerd wees oor wat mense van my dink, óf ek kon my ore toehou vir die geraas daar buite. Dit is alles of niks met my, en ek vertel eerder die waarheid. Ek vertel baie waarhede in my boek, want die beste paadjie wat jy kan stap is die eerlike paadjie. Dit is egter die moeilike paadjie, want mense wil nie altyd eerlik wees met hulleself nie.”

Soldaat word in Maart deur NB Uitgewers uitgegee.

“Diep binne my” is op alle digitale platforms beskikbaar. Hugo vertel meer in ‘n video-onderhoud met Maroela Media.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.