Musiekvideo: Riaan Benadé, Demi Lee sing weer saam oor die liefde

Riaan Benadé en Demi Lee Moore op die stel van ‘Kannie sonder jou nie’. (Foto: Verskaf)

Die liefde is vandag, op Valentynsdag, behoorlik in die lug en vir Demi Lee Moore en Riaan Benadé, twee van ons land se gewildste Afrikaanse sangers, is dit geen uitsondering nie.

Demi Lee en Riaan se duet “Kannie sonder jou nie” pryk al vir etlike weke op al wat ʼn treffersparade is, ook op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Dié snit spog van vandag af met ʼn splinternuwe musiekvideo, wat op ʼn reënerige dag geskiet is by ʼn karnaval wat tydelik by The Grove Mall in die ooste van Pretoria opgerig is.

Hierdie liefdesliedjie, uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer, gaan oor ʼn paartjie wat nie sonder mekaar kan klaarkom nie, en selfs mekaar se sinne voltooi – baie soortgelyk aan Demi Lee en Riaan se eie liefdeslewens.

Demi Lee Moore is verloof aan haar die kitaarspeler Barthlo Visagie, en Riaan Benadé, wat in Januarie aangekondig het dat hy pa word, het self onlangs stilweg trou aan die vrou van sy drome, nou Melissa Benadé, beloof.

“Die liedjie is die enigste duet vanaf my nuwe album, Jy ken my naam, en dit is natuurlik saam met die fenomenale Riaan [Benadé]. Dit is nie net ʼn liefdesliedjie nie, maar mense kan ook lekker op hom dans. Ek is seker mense gaan daarvan hou,” vertel Demi Lee.

Die liedjie het ʼn country-klank, waarvoor Demi Lee en Riaan natuurlik albei baie bekend is. Hulle het reeds groot suksesse saam beleef, veral met hulle duetsnit “There Was Jesus”, wat al meer as vier miljoen kykbeurte op YouTube het.

Riaan Benadé en Demi Lee Moore op die stel van ‘Kannie sonder jou nie’. (Foto: Verskaf)

“Ons is so dankbaar dat The Grove Mall die karnaval spesiaal vir ons oopgemaak het en ons kon al die ritte eksklusief geniet voordat ons met die verfilming begin het,” vertel Riaan.

“Toe die reën begin uitsak, moes die hele span inspring om toerusting onder beskutting te kry. Die wind en reënweer het gesorg vir ʼn pragtige dramatiese effek en die video voel behoorlik soos iets wat uit ʼn Hollywood-rolprent kom.”

Jy ken my naam is amptelik op 3 Desember verlede jaar uitgereik en sedertdien boer dit op die trefferparades. Die album is tans in die tweede plek op Apple Music se Afrikaanse treffersparade.

Demi Lee se musiekvideo vir die snit “Wie se hart breek jy vanaand” is al meer as 800 000 keer op YouTube gekyk en die musiekvideo vir “Kan jou nie my maak liefhê” is al meer as 700 000 keer gekyk.

“Kannie sonder jou nie” is op alle gerekende digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir “Kannie sonder jou nie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Fantastiese video deur twee fantasties kunstenaars wat hulle passie vir musiek uitleef.Bravo julle,julle stemme vul mekaar goed aan.

Sara ·

Baie mooi! Ek is ‘n groot fan van Riaan, hy sing pragtig. Hy kry ook die Wiskunde-onderwyser ‘look’ baie goed reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.