Musiekvideo: Riaan Benadé gooi nog ʼn whiskey

Riaan Benadé. (Foto: Francois Olivier)

Riaan Benadé se langverwagte debuutalbum, Spontaan, word eersdaags uitgereik en die eerste enkelsnit getiteld “Gooi nog ʼn whiskey” is pas bekend gestel.

Die musiekvideo is Vrydag uitgereik. In dié video vertolk die akteurs Marno van der Merwe en Kate Roothman die twee mense in die tragiese liefdesverhaal van twee mense wat nie die geleentheid het om saam oud te word nie.

Die liedjie is deur Georic Lomas, Paulo Azevedo en Benadé vir sy debuutalbum geskryf. “Ek wou so eerlik as moontlik wees om te wys dat ʼn gebroke hart menslik is en dat soveel mense al daardie seer deurgemaak het.”

Sy debuutenkelsnit, “Helpende Hande”, is verlede jaar deur Solidariteit Helpende Hand hul eie gemaak. Kort daarna het sy vertolking van die geestelike snit “There Was Jesus” saam met Demi Lee Moore digitale platforms getref. Dié snit is gedurende die koronavirus-pandemie vrygestel is en die musiekvideo het bykans 700 000 kykbeurte gehad.

Op vyftien het Riaan begin liedjies skryf en dié talent het in sy twintigerjare vlam gevat. Na skool het hy musiek gaan studeer en dit is toe dat hy wéét wat hy met die res van sy lewe wil doen.

“Ek wil doen waarvoor ek so ʼn groot passie het en ek wil elke dag mense daardeur inspireer. Ek wil onthou word vir die musiek wat ek geskryf het,” sê Benadé.

Musiek was nog altyd deel van sy lewe, met ʼn pa en oom wat aanhangers reg oor die land as die sangduo Innes en Franna Benadé bekoor het. Sy ouma was ook ʼn geliefde musiekonderwyseres by die hoërskool op Nylstroom.

As musiekstudent het Benadé ligte musiek en jazz as hoofvakke gehad en sê hy het veral baie by sy klasmaats geleer. “Ons land het so ʼn ongelooflike musiekkultuur en die talent is verstommend,” sê hy.

Hy vertel hy is opgewonde dat luisteraars uiteindelik sy album te hore kan kry. Die album het 12 snitte uit sy eie pen sowel as drie snitte wat ooropgeneem is.

“Ek kan nie wag om te sien wat dit doen daar buite nie. Dit is die kersie op die koek vir al die jare se musiekmaak in kroeë en op troues. Dis vir my lekker om iets uit te bring wat ek self geskryf het. Dit is ʼn baie kwesbare ding om te doen en dit is vreesaanjaend, maar ek hoop dat mense sal aanklank vind daarby.”

“Gooi nog ʼn whiskey” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae