Musiekvideo: Rooibos en Wijn sing met rou emosie

Die nuwe musiekgroep Rooibos en Wijn se debuutenkelsnit, “Sonskyn kind”, is onlangs uitgereik. Die liedjie spog ook nou met ʼn splinternuwe musiekvideo, wat vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien is.

“Sonskyn kind” is geïnspireer deur oomblikke waartydens die voorsanger, JP van Zyl, ure aaneen kon filosofeer saam met ʼn meisie oor die lewe en die liefde.

“Die liedjie gaan oor ʼn meisie op wie ek verlief geraak het. Ek kon vir ure in haar oë staar op die slaapkamervloer terwyl ons gefilosofeer het oor die idee van ware liefde. Die woorde het na my toe gekom in haar teenwoordigheid.”

Van Zyl het “Sonskyn kind” geskryf en begin met die lirieke: “Ek sien Jerusalem in jou oë, skryf ek halwe gedigte ook. Ek sien storms en vlinders”. Dít som presies op waar dié liedjie se oorsprong vandaan kom – van sy muse en hoe hy haar beleef, sê hy.

“Net soos Jerusalem afgebreek en vernietig is deur die oorloë binne haar, word dit nog steeds simbolies gesien as die plek van vrede. ‘Sonskyn kind’ was ook al deur baie, maar haar siel en menswees is iets rein, iets buitengewoon. Ek dink God het ʼn ander tipe kultivar gebruik.”

Volgens Van Zyl is dit ʼn rou, alternatiewe liedjie. “Ek sal daarvan hou as mense wat hierna luister by iets in my woorde sal aanklank vind.”

Sy hoop is dat mense ook die lirieke kan interpreteer hoe ook al dit dalk van toepassing is in hulle eie situasie. “Met die musiekvideo wou ons ’n storie vanuit my oogpunt vertel.”

Wanneer Van Zyl self verlore raak in musiek geniet hy enigiets van Queen tot Mumford & Sons en Manchester Orchestra. Afrikaanse alternatiewe musiek soos dié van Jan Blohm, Francois van Coke, Spoegwolf, TWEE en Glaskas is ook op sy speellys.

Volgens Rooibos & Wijn is daar nog musiek opgeneem en die beplanning is om dit later in die jaar uit te reik.

Luister nou na “Sonskyn kind” op alle digitale platforms.

Kyk hier na die nuwe video vir “Sonskyn kind”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.