Musiekvideo: Rooksein maak hart oop met debuut-video

Die lede van die jong musiekgroep Rooksein het onlangs deel geraak van die Universal Musiek-familie.

Die groep se debuut-musiekvideo vir “Kyk na my hart” is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die video beeld ʼn boodskap van hoop uit, vertel die Potchefstroomse groep, wat bestaan uit Megan Danner (22), Dian Maritz (21) en Renier van der Westhuizen (23).

“Daar is soveel kere dat ʼn mens aanhoudend seerkry en daar word misgekyk hoe spesiaal jy eintlik is. Soms moet dit eers sleg met ʼn mens gaan voordat dit kan beter gaan,” verduidelik die groep die boodskap van die liedjie én musiekvideo.

“Jy, jou hart en jou siel is spesiaal en bitter besonders net soos wat jy is. Leer uit jou foute, aanvaar aanspreeklikheid, hou op in die gemak van seer vasgevang bly, groei as mens en word sterker.

Dian Maritz, Megan Danner en Renier van der Westhuizen van Rooksein. (Foto: Aldus Smith Photography)

“Elkeen het sy of haar eie probleme, maar in ʼn mate gaan ʼn mens tog deur dieselfde pyn as die persoon langs jou. Jy moet net jou eie paadjie stap, vorentoe kyk en uiteindelik wag daar iets beters en mooiers vir jou.”

Die musiekvideo is vervaardig deur Christian Wolf. Die video beeld uit hoe elkeen op sy of haar eie manier uitdagings verwerk om uiteindelik by dieselfde eindbestemming te kom.

“Ons streef daarna om uniek te wees in ons musiek en probeer om nie soos iemand anders te wees nie; dit kan ook gesien word in hierdie musiekvideo,” voeg die groep by.

Die groeplede het mekaar op Potchefstroom ontmoet, waar Van der Westhuizen vir Danner en Maritz op die Puk-talentfees raakgesien het. Hy het dadelik met hulle kontak gemaak sodat hulle mekaar beter kon leer ken – en die res is geskiedenis.

“Kyk na my hart” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wikkie ·

Dis gehalte musiek. Vars en welkom.
Goeie instrumente, goeie lirieke, goeie melodie, ritme en tempo, met ‘n goeie video. Die groep kan en sal heel waarskynlik groot sukses behaal.

Maar hoe is dit dat die jeug van vandag nie leer hoe om ‘n lang A korrek uit te spreek nie. Hulle oorrond hul lang A’s drasties en dit tref hard op die oor.

Reg vanaf die eerste lirieke tref dit my.

“As jy stôn, stôn sôm met my”

“Ek’s verward en deurmekôr”

Dis bôie moeilik om na te luister.

Korregeer die ouers tuis en onderwysers by die skool nie meer die kinders wanneer hulle dit so uitspreek nie?

Anders as dit, regtig knap gedôn.

.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.