Musiekvideo: Ruan Jordaan gesels oor ‘Veilig tuis’

Ruan Jordaan (Foto: verskaf)

Die sanger Ruan Jordaan het pas sy jongste musiekvideo en enkelsnit, “Veilig tuis”, bekend gestel.

Dit is ook onlangs bekend gemaak dat Jordaan een van Die Kontrak 2 se 26 finaliste is nadat Tarryn Lamb hom as een van haar deelnemers aangewys het.

“Dit is so opwindend en nogal ’n bedrywige tydjie wat vir my voorlê met die uitreiking van ‘Veilig tuis’ én Die Kontrak 2-verpligtinge,” vertel Jordaan opgewonde.

“‘Veilig tuis’ is regtig ’n getuigskrif van my en my meisie se verhouding. Vir ons is dit belangrik om altyd te weet dat die ander een veilig is. Ons sal mekaar gereeld laat weet wanneer een van ons op die pad is, dat ons nog veilig is,” vertel Jordaan.

Dié liedjie beskryf die tuiskoms wat hy en sy meisie vir mekaar bied.

“Dit is presies waaroor ‘Veilig tuis’ handel. Om daardie één persoon in jou lewe te hê wat alles soos huis, oftewel dan ʼn tuiste, laat voel. Om selfs veilig tuis te voel in ’n onveilige wêreld, maar waarin ʼn mens nie bang is om dit saam daardie persoon aan te pak nie.”

“Veilig tuis” is deur William Wolfgang Loots, Roux Cloete en Jordaan geskryf.

Die Droomdag-kompetisie, waarvan Jordaan die wenner was, is in 2021 deur Loots aangebied en deel van die prys was ’n enkelsnituitreiking.

’n Musiekvideo word ook saam met die enkelsnit uitgereik en vir Jordaan was dit ’n hoogtepunt om almal vir wie hy lief is, deel te kon maak daarvan.

“My ouers was nog altyd daar om my te ondersteun. Hulle het my al sien huil as gevolg van teleurstelling in die bedryf en ook al gedeel in my klein deurbrakies,” sê Jordaan.

Sy meisie en vriende kan ook in die musiekvideo gesien word.

“Die musiekvideo se storielyn handel oor twee jong mense wat mekaar in ’n oomblik vind en besef dat hulle die res van hul lewe saam met mekaar wil deurbring. Daar is egter ’n paar struikelblokke en so ʼn bietjie humor voordat dit alles gebeur.”

Wanneer hy nie skryf en optree nie, woeker hy ook as entrepreneur met sy onderneming, Eternity Leathercraft, wat leerprodukte vervaardig en versprei.

Hy het ook in 2021 ’n duet, “Meer as gereed”, saam met Bouwer Bosch uitgereik.

Vir Jordaan is nederigheid belangrik.

“Daar is altyd iemand beter en meer talentvol as jy en ook altyd iemand wat dit nét so graag wil hê soos jy. ʼn Mens moet seker maak jy is die een wat harder werk, maar gun ander ook die geluk en sukses wanneer dit verdien word.”

  • “Veilig tuis” is nou op alle musiekstromingsplatforms beskikbaar. Kyk na die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.