Musiekvideo: Ruan Jordaan ‘ʼn vegter te midde van omstandighede’

Ruan Jordaan.

Toe die sanger en liedjieskrywer Ruan Jordaan ses jaar oud was, het sy ouers agtergekom hy het ʼn sangtalent. As tienjarige het hy instrumente begin bespeel. Nou, byna 18 jaar later, stel hy die enkelsnit “Vegter” vry.

Die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Jordaan vertel die boodskap van “Vegter” is om die luisteraar te motiveer om aan te hou veg, maak nie saak wat die omstandighede of situasie is nie.

“Dit is ʼn goeie liedjie in ʼn tyd soos nou, waar mense mismoedig en depressief is weens die Covid-19-pandemie. Ek dink mense wat byvoorbeeld in hierdie tyd hul werk of geliefdes verloor het, sal aanklank vind by die liedjie.”

Jordaan vertel hy het die melodielyn van die liedjie op die klavier geskep. Daarna het hy dit verwerk op sy kitaar en dit is finaal verwerk met die hulp van Deon Volschenk en Ruan Graaff van Dee Graaff Productions.

“Wat my betref, is hulle die heel beste ouens in die bedryf om mee saam te werk. Hulle is die soort mense wat antwoorde sal vind op my vrae as hulle nie dadelik antwoorde het nie. Die liedjie klink heel anders as toe ek dit aanvanklik neergepen het, maar dit klink ongelooflik,” sê Jordaan.

“Vegter” is ʼn ritmiese rock-snit wat hy geskryf het toe hy deur ʼn moeilike tyd met sy musiekloopbaan en toekoms as musikant gestoei het.

Ruan Jordaan.

Sy debuutenkelsnit, “Stilstaantyd”, is verlede jaar uitgereik, maar het nie die sukses behaal waarop Jordaan gehoop het nie. Dit het hom laat wonder of hy werklik die regte loopbaan najaag. Ná ʼn tydperk van diep besinning het hy besef dat hy gebore is om musiek te maak.

“Daar is vir my geen groter droom om na te jaag nie en niks anders waarvoor ek so lief is soos musiek nie. Die liriek van ‘Vegter’ herinner my daaraan dat ʼn mens altyd moeilike tye en omstandighede in die lewe gaan beleef. Dit gaan egter oor hoe jy jouself optel en sterker aan die ander kant uitkom.”

Die musiekvideo vir die liedjie is ook ʼn getuienis van die vegter binne hom, sê Jordaan. Hy het geld ingesamel met aanlyn vertonings om dié produksie moontlik te maak. Dannha Coetzee het die video vervaardig.

“Ek het aanvanklik ʼn musiekvideo met ʼn baie groter produksie in gedagte gehad, maar weens die staat van inperking was dit nie moontlik nie. Die video is uiteindelik geskiet op ʼn verhoog en dit was net ek en die kitaar. Die konsep is dus eenvoudig maar steeds treffend,” sê hy.

Jordaan het ook sy eie sakeonderneming, Starborn Music Academy, wat hy van die huis af bedryf. Die jong musikant het nog groot drome om naam te maak in die musiekbedryf en skryf tans soveel moontlik.

“Ek fokus meestal op my persoonlike lewenservarings waarna ek my gevoelens op papier neerpen. Ek is baie lief vir diep musiek wat my kan laat voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.