Musiekvideo: Rudi Claase ‘nie meer bang vir die waarheid’

Rudi Claase.

Rudi Claase kondig met sy nuwe album getiteld Liedjieskrywer aan dat hy uiteindelik gereed is om sy eie waarheid met liriek en melodie te verkondig.

Claase woeker reeds bykans twee dekades in die Afrikaanse musiekbedryf as liedjieskrywer en wenner van ʼn legio gesogte pryse, onder meer vier Ghoema-musiektoekennings en die ATKV-Afrikoon-toekenning.

Sy jongste enkelsnit “Woordeloos” verskyn in die album Liedjieskrywer en hy sê dat dié snit vir hom
“spesiaal” is.

“Ek voel ek het oor die afgelope paar jaar myself ook verloor en die tema van die lied sluit hierby aan,” verduidelik die sanger oor die inspirasie agter die pop-rock snit.

“Dit het gevoel asof my stem in donkerte probeer dans en ek nou eers myself gevind het. Ek is nie meer bang om die waarheid te praat nie. Ek het myself woordeloos gelaat te midde van ʼn angswekkende noodsaaklikheid om uiting te gee aan my emosies. Ek hoop dat mense dit ook as meer as ʼn liefdeslied sal ontvang.”

Hy sê Liedjieskrywer is ʼn “outobiografiese album met ʼn storielyn”. “Die klank is iets van als, met ʼn mengsel van pop, pop-rock en ballades, maar mense gaan dalk geskok wees oor sommige van die lirieke wat by tye effe aan die donker kant raak en sommige van die lirieke gaan mense hopelik aanraak. Ek wou uiteindelik net ten volle eerlik wees.”

Die musiekvideo vir “Woordeloos” is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien. Deon van Wyk was die direkteur van fotografie en het die video redigeer. Annelize Kraounakis en Liezel Botes Scheppel van Picture Perfect Studios het die vervaardiging hanteer. Die konsep vir die video is ontwikkel deur Rudi, Picture Perfect en Deon van Wyk. Dit is by Photo Factory se geboue en tuin geskiet.

In die video word Claase as ʼn verlore persoon uitgebeeld. “Die konsep draai om oomblikke van pure geluk en liefde, wat onderbreek word deur twyfelagtige verlies en ʼn soektog na iets of iemand. Die palet wissel van sagte wit en blou beelde tot donker, skerp en intense skote, waarin ek myself totaal oorgee aan die musiek.

“Ek het saam met ’n ongelooflike span mense gewerk wat presies verstaan het wat ek probeer sê.”

Liedjieskrywer sal op 9 April vanjaar die lig sien. “Musiek is my lewe en alles wat ek voel vorm ’n melodie in my binneste. As jong man was ek eintlik baie skaam, maar musiek was nog altyd die wind onder my vlerke.

“Dit is nog altyd vir my ʼn groot eer om die geleentheid te hê om my waarheid met mense te deel op die verhoog en te sien hoe dit mense raak. Ek dank elke dag my Skepper vir die voorreg om op so ’n wyse ’n verskil te maak.”

“Woordeloos” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.