Musiekvideo: Seer is net ‘tydelik’, vertel Harry Broersma

Harry Broersma (Foto: verskaf)

“Ek wil hê mense wat na ‘Tydelik’ luister, moet besef hulle is groter as die duiwels wat hulle elke dag saamdra. In die lewe is daar ’n seisoen vir alles – van hartseer tot blydskap.”

Só sê die musikant Harry Broersma wie se debuutsnit, “Tydelik”, pas vrygestel is.

Die 22-jarige nuweling beskryf homself as ’n reeks komplekse teenstellings en die instroming daarvan is volgens hom duidelik hoorbaar in sy musiek. Hy wil ook hê dat sy musiek altyd betekenis inhou en maak dan ook net só met sy debuutsnit.

Met “Tydelik” vertel hy die storie oor ’n vorige verhouding en die hoop wat hy gehad het dat die meisie haarself deur sy oë kon sien. “Sy sou weet dat sy uniek is en uitgekies is om die beste weergawe van haarself te wees,” verduidelik hy.

Volgens Broersma wil hy ook met “Tydelik” die boodskap benadruk dat enigiets wat oor jou pad kom, tydelik is. “Ek wil deur my musiek hê mense moet onthou daar is ’n seisoen vir alles – hartseer én blydskap. As die son heeltyd geskyn het, was ons in ’n woestyn.”

As hy nie ’n passie vir sang gehad het nie, sou die donkerkop sy mikrofoon vir ’n stetoskoop wou verruil. “Ek wil altyd ander mense help en die wêreld ’n beter plek maak, maar ek voel deur my musiek kan ek ook mense se lewe op ’n ander manier verbeter.”

Dié lied se musiekvideo is ook nou op YouTube te sien en handel oor die goeie maar tydelike herinneringe van ’n verhouding. Hy hoop kykers sal voel hulle is deel van die musiekvideo se storielyn en saam op ’n reis deur die “karakters” se verskillende emosies gaan.

Deon Dee, gewilde vervaardiger, sanger én lid van Dee Graaff Productions, was die regisseur en vervaardiger van dié musiekvideo, terwyl gesoute musikant en vervaardiger Ruan Graaff – ook van Dee Graaff Productions – die vervaardiging van die enkelsnit behartig het.

“Tydelik” is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.